Die Weg

 

Lewegewende water (5) – om vrug te dra

(Lees saam met die vorige)

En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan - uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.” - Esegiël 47:12 (53-vertaling).

Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” - Jeremia 17:7-8 (53-vertaling).

Die stroom wat uit die heiligdom vloei maak dit moontlik dat bome in so 'n onvrugbare streek nie net begin groei nie, maar dat hierdie bome ook ongekend vrugbaar is. Dit dra regdeur die jaar vrugte met genesingskrag in die blare. Die blare verkleur nooit en die takke word nooit kaal nie.

Die wonderkrag van hierdie bome kom nie uit die grond waarin in hulle staan nie, maar kom van die heilige water wat hulle voed.

Die apostel Johannes het 'n soortgelyke visioen op Patmos gehad. Daar is 'n treffende ooreenkoms tussen hierdie twee visioene: “Toe het die engel my die rivier met die water van die lewe gewys. Dit is helder soos kristal en dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit. Tussen die hoofstraat van die stad aan die een kant en die rivier aan die ander kant staan die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte: elke maand lewer hy sy vrugte. Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.” (Openb 22:1-2).

Hier is ook 'n rivier wat uit die troon van God stroom. Presies soos by Esegiël want die “heiligdom” het daar ook verwys na die troon van God.

Tog is daar 'n effense verskil tussen Esegiël se visioen en dié van Johannes. Johannes profeteer van die nuwe hemelse lewe. Wat Esegiël in die laaste hoofstukke van sý boek profeteer is nie die hemel nie, maar die koninkryk van God op aarde; nie die triomferende kerk nie, maar die strydende kerk. Johannes gee 'n blik op die hemelse tempel en Esegiël beskryf die tempel van God op aarde .... die kerk van die Here aan hierdie kant van die eindstreep!

Die bome waarvan Esegiël praat is die gelowiges, die kinders van God, wat saam die kerk van Christus hier op aarde verteenwoordig en wat gevoed word deur die stroom van die lewe, dit is die Heilige Gees.

Die ooreenkoms tussen die bome van Esegiël en dié van Johannes bevat 'n ernstige les. Dit is naamlik dat daar géén teenstelling kan of mag wees tussen die lewe in die hemel en die lewe hier binne die kerk van Christus nie. In wese is die lewe van die gelowige hier en in die hiernamaals dieselfde lewe; dit is naamlik die ewige lewe.

Wie in My glo, sê Christus, kry nie, maar het die ewige lewe. Die hemellewe is geen nuwe, vreemde element wat die kind van God nie alreeds tydens sy aardse lewe meegemaak het nie. Dit is net die voltooiing van dít wat hier op aarde ontkiem het, die vrug wat rypheid bereik het. Daar is wel 'n nuanse verskil tussen die hemellewe en die aardse lewe. Nee, dit is nie tussen dood en lewe nie, want die dood ontkiem nie tot die lewe nie. Dit is die onderskeid tussen saad en vrug, tussen kind en volwassene: die saad word 'n vrug en die kind word volwasse. Daarom moet ons reeds nou al die ewige vreugde van die saligheid in ons harte omdra.

Die beginsel hier is dat die kinders van God die verlange sal koester dat die aarde die beeld van die hemel moet vertoon. Esegiël het die aardse Godsryk as't ware gesien as 'n afbeelding van die hemel. En dit is nie vergesog nie, want die Here Jesus het dit self so gewil toe Hy ons leer bid het: “Laat u wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde” (Luk 11:2). Ons moet net so gewillig en gehoorsaam God se wil op aarde doen, as wat die engele dit in die hemel doen. Dit is die hoë roeping van die kerk. Dit is: “rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is” (Kol 3:2). Dit is om die glans van die hemel af te bring na die aarde, sodat daar geen verskil kan wees tussen wat Esegiël en Johannes sê nie.

Die beginsel van die ewige vreugde bestaan daarin, dat ons lewe 'n afdruk sal wees van die volmaakte hemellewe, al is dit dalk net 'n dowwe afdruk. Dit kom daarop neer dat ons, na die woorde van Esegiël, vrugte sal dra in welke lewensseisoen ons ons ook al bevind.

(slot volg)

Uit: De Balling van de Kabaroe, deur ds H Veldkamp (verwerk)

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css