Die Weg

 

Lewegewende water (6) – die aard van die vrugte

(Lees saam met die vorige)

En by die stroom sal aan altwee kante allerhande bome groei om van te eet, waarvan die blare nie sal verdor en die vrugte nie sal opraak nie; elke maand sal hulle nuwe vrugte dra; want die waters waar hulle aan staan - uit die heiligdom stroom hulle; en hulle vrugte sal wees om te eet en hulle blare om te genees.” - Esegiël 47:12 (53-vertaling).

Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ‘n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.” - Jeremia 17:7-8 (53-vertaling).

Die vorige boodskap is afgesluit met die woorde: “Die beginsel van die ewige vreugde bestaan daarin dat ons lewe 'n afdruk sal wees van die volmaakte hemellewe, al is dit dalk net 'n dowwe afdruk. Dit kom daarop neer dat ons na die woorde van Esegiël: vrugte sal dra in welke lewensseisoen ons ons ook al bevind.”

Die lewe is nie altyd net somer nie. As die winterstorms oor ons opsteek kan dit snerpend koud word. Maar ons moenie toelaat dat die tye van bloeisels en vrugte in ons geloofslewe verander in onvrugbaarheid en biddeloosheid, waarin die takke kaal en wanhopig leeg is nie. Nee, so mag dit nie wees nie. Alhoewel die gelowiges nie altyd dieselfde vrugte dra nie, dra hulle tóg steeds vrugte.

Die aard van die vrugte hang af van die weg waarop ons ons bevind. In dae van droefheid berus die kind van God stil in God se raadsbesluit, en in vreugdevolle tye kan hy dit uitjubel, maar nooit is hy sonder vrug nie. In teëspoed is hy geduldig en in voorspoed dankbaar.

'n Mens moet hierdie twee nie teen mekaar opweeg nie en nie vra watter een die maklikste is nie: geduldig in teëspoed of dankbaar in voorspoed. Beide van hulle is onmoontlik sonder genade. Sonder genade kan 'n mens miskien effens berus in teëspoed , maar nie geduldig wees nie en ook nie roem in die verdrukking nie (Rom 5:3). En sonder genade kan 'n mens miskien in voorspoed tevrede wees, maar nie dankbaar teenoor God nie, want die ware dankbaarheid lê in die nakoming van God se gebod. Om dit uit dankbaarheid na te kom, kan slegs geskied deur die krag van Christus.

Maar so min as wat die bome in Esegiël se visioen vrugbaar kon wees sonder die waters uit die heiligdom, so min kan ons in alle omstandighede vrugte dra as ons nie put uit ons kragbron Jesus Christus nie: “Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.” (Joh 15:4).

Ons moet vrugte dra, want die grootste sonde is die sonde van onvrugbaarheid. As iemand sou steel of owerspel pleeg, sal dit vanaf die torings uitgebasuin word. Dan praat almal daarvan. Maar dat hulleself met kaal takke in die voorhof van God se kerk staan, dít roer hulle nie. Hulle dink glad nie daaraan dat hulle boom geen vrugte voortbring tot verheerliking van God nie. Hulle dink net daaraan dat hulle vrugbaar genoeg is vir die daaglikse lewe. Hulle is die hele dag besig en vir die res lewe hulle fatsoenlik – dis reg! Maar hulle is nooit getuies van Christus nie. Hulp vir die armes bly uit. Vir die evangelie voel hulle nie veel nie. Waar is dan die vrugte? En soms lyk dit asof hierdie onvrugbare kerkmense met eer gekroon word.

Vir húlle is God se Woord verpletterend: “Elke loot aan My wat nie vrugte dra nie, sny Hy af” (Joh 15:2). Die onvrugbare vyeboom is nutteloos en put die grond uit (Luk 13:6-7) en nie alleen dit nie, maar dit beroof ook die ander bome van hul sap. Die Here plant nie sierbome nie, maar vrugtebome in sy tuin.

Dit gaan oor die vrug en die Groot Landheer sal dit ook op die groot dag van dae vra. “Die byl lê klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi” (Matt 3:10).

Bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek. Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer. Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God. As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God; as iemand dien, laat dit wees soos uit die krag wat God verleen, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en krag toekom tot in alle ewigheid.” (1 Pet 4:8:11; 53-vertaling).

“Dra dan vrugte wat by die bekering pas.” (Matt 3:8).

Uit: De Balling van de Kabaroe, deur ds H Veldkamp (verkort)

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css