Die Weg

 

As geskenk van die Gees

Dit was vyftig dae na die Paasfees dat alles begin het. Wanneer hulle later aan hierdie dag teruggedink het, kon hulle dit nie anders stel nie as dat wind en vuur van God gekom het:

'n Vuur het gekom, en ons is verander. Ons het gewéét dat Christus by ons was. Ons kon dinge sê wat ons nooit voorheen sou kon sê nie. En ons het geweet wat ons moes doen. Ons het onmiddellik gesien hoe die pad wat ons saam met Jesus geloop het, verder voortgaan: hoe dit reguit na die mense lei. En niks was vir ons belangriker as om hierdie pad saam met Jesus na die mense te stap nie. Ons was “een liggaam” met Hom, “'n kerk”.

En hulle het teruggedink. Gedink aan die dae toe hulle saam met Jesus deur Galilea gestap het. Die dag toe hulle alleen in die bootjie op die See van Galilea was; toe 'n storm opgekom en die water hulle byna verswelg het. Maar dan kom Jesus oor die golwe na hulle aangestap, en nog voordat hulle mooi kon verstaan wat gebeur, het hulle veilig op vaste grond gestaan. En hulle het begryp: die wind wat hulle bootjie rondgeslinger het, het van God gekom. Dat hulle in gevaar was, het van God gekom. Dat hulle die land bereik het, het ook van Hom gekom. En Jesus het voor hulle uit oor die golwe gegaan.

Dan dink hulle nog verder terug. Hulle dink aan die skeppingsverhaal. Toe alles nog woes en leeg was, en in duisternis verkeer het, het die Gees van God, soos 'n wind, oor die oerchaos gesweef. God het sy Woord gespreek, en die wêreld het tot stand gekom.

En nou ervaar hulle wat gebeur wanneer God iets nuuts skep. Waar God se Gees werk het die mens 'n weg voor hom waar hy voorheen net 'n muur gesien het. Hy vind sy nuwe opdrag in dít wat alles tot dusver vir hom sinloos gelyk het. Hy het 'n Begeleider waar hy hom voorheen alleen gevoel het. Hy kán homself verander waar hy tevore gedink het dat dit onmoontlik was. Hy is 'n “nuwe mens”, nie uit homself nie, maar deur die “gawe van die Gees”.

En ons Christene van vandag moenie net tevrede wees met die verbetering van verhoudinge in die bestaande wêreld nie – al wil ons ons volledig daaraan toewy. Maar ons moet met ons hele wese die verwagting hê op 'n “nuwe wêreld” en “'n nuwe mens” as geskenk van die Gees van God.

Here, ons Heiland,
U het ons beloof:
U sal u Gees na ons stuur,
sodat ons kan glo
en vrede mag hê.

Terwyl ek U bedank, erken ek,
dat die woorde van dank nie vanuit myself kom nie,
maar dat U dit in my gelê het,
in my, 'n ondankbare mens.

Terwyl ek my voor U neerbuig, erken ek,
dat ek my nie uit eie krag aan U oorgee nie,
maar dat Uself my laat neerbuig,
sodat my harde hart dit nadoen.

Terwyl ek by U bly, erken ek,
dat dit nie deur my eie getrouheid is nie
- dit dra nie ver nie -
maar dat dit U is wat my vashou.

Terwyl ek net U stem hoor, erken ek,
dat dit nie uit myself kom
wat my vrymaak van die ander stemme nie
maar deur die vryheid wat U my daartoe geskenk het.

Terwyl ek myself op U verlaat, verstaan ek,
dat U my sorge en angste weggeneem het
en my vrede en vertroue geskenk het.

Ek kan my verheug. En het geen verklaring daarvoor nie.
Ek weet net: dit is die teken van u Gees.
Ek verdra die mense en erken:
dit is u wonder wat binne my gebeur.

Here, my Heiland, ek bid U:
Laat my nie weer aan myself oor nie.
Laat u geskenk, laat u vrede
en my vertroue in U, my bybly.
Amen.

Uit: Wie wir beten Können, deur Jörg Zink
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css