Die Weg

 

U woord is die waarheid (1)

Ons ken die verhaal van die Joodse volk in die tyd van Jeremia. Hoe Jeremia die volk aanhoudend gemaan het om hulle van hulle bose weë te bekeer en hulle aan die wil van God te onderwerp. Tog wou hulle nie luister nie, want die woorde van die valse profete het vir die koning en die volk meer gewig gedra as dié van die profeet van God. God kondig daarom sy gerig oor Jerusalem aan. In die tyd van koning Sedekia is dit dan so ver.

Maar wat is die verband tussen die tyd van Jeremia en die tyd waarin ons leef? Is daar iets wat ons uit hierdie geskiedenis kan leer. Ja verseker. Ds H Veldkamp bespreek dit in sy boek Een Dubbelleven. Voordat jy hierdie uit Jeremia 39 lees, sal dit dalk goed wees om self die voorafgaande hoofstukke van Jeremia in jou Bybel na te gaan.

- - - - -

En die Chaldeërs het die paleis van die koning en die huise van die volk met vuur verbrand; en die mure van Jerusalem het hulle omgegooi.” - Jeremia 39:8.

Ons staan hier voor 'n groot raaisel! Babel triomfeer en Jerusalem word 'n woesteny. Iemand sou sekerlik gevra het: Waarom laat God dit toe? Maar die ergste is: God doen dit! Ons sien hoe die vorste van die koning van Babel Jerusalem triomfantlik binnetrek (Jer 39:3). Hulle seëvier as onoorwinlikes! Hulle is die trotse verteenwoordigers van die magtigste ryk wat hom uitstrek van see tot see, en tot aan die einde van die aarde.

“Hul swaard het hul dit nie laat erwe, hul arm geen seëpraal verwerwe.” (Ps 44:2, beryming). Hulle het met hul oorwinnings gespog omdat hulle nie van beter geweet het nie. Maar ons weet dat dit God self was wat agter Nebukadnesar gestaan het. As God teen die planne van hierdie wêreldheerser opgetree het, sou hy niks teen Jerusalem kon doen nie. Dat hulle nou as oorwinnaars Jerusalem kon binnetrek, was omdat God se regterhand en mag hulle die roem geskenk het. Op elke bladsy van die boek Jeremia ontmoet ons God. “Gaan en spreek met Sedekía, die koning van Juda, en sê vir hom: So spreek die HERE: Kyk, Ek gee hierdie stad in die hand van die koning van Babel, en hy sal dit met vuur verbrand. En jy sal uit sy hand nie ontvlug nie!” (Jer 34:2-3) Dit maak die raaisel des te meer pynliker.

God breek sy eie stad af. God laat sy eie heiligdom ontheilig (vgl Eseg 24:21). God vee sy land van die kaart af. God verstrooi sy eie volk.

Van Babel kon ons sulke dinge verwag. Dit is vanselfsprekend dat die heidene die tempel sou verwoes en die heilige voorwerpe in die tempel sou plunder. Ons sou ons verwonder het as dit anders was. Babel het Jerusalem gehaat. Die draak het die “jongvrou van Israel” (vgl Jer 31:4) agtervolg en verslind. Maar dat God self 'n hand daarin gehad het, is iets wat 'n mens nie sou kon verstaan nie.

Maar ons moet baie noukeurig hierna kyk. God breek sy altare nie af solank as wat dit nog God se altare is nie. Hy breek nie sy tempel af, as dit nie reeds ontwy is nie. As daar geen skyn van die godsdiens oorgebly het nie, is die ineenstorting van die kerkmure nie 'n nuwe ramp nie, maar net 'n bewys van die ramp wat hom lank reeds voltrek het. Die offeraars het die altare ontwy. Dat God dit omgooi is maar net die konsekwensie daarvan. Die inwoners van Jerusalem het 'n rowerspelonk van die stad gemaak (vgl Jer 7; Mat 21:13). Daarom is dit nie God wat 'n ruïne van Jerusalem gemaak het nie; die inwoners van Jerusalem was self verantwoordelik daarvoor. Dit is nie God wat sy tempel verwoes het nie. Die eintlike verwoesters van die kerk was die kerkmense self.

(word vervolg)

Uit: Een Dubbelleven, deur ds H Veldkamp (verkort).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css