Die Weg

 

Die lewe is tog goed, al voel dit nie altyd so nie

Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.” - Kolossense 3:1-4.

Die wêreld waarin ons leef laat ons dikwels aan 'n nagmerrie dink. Alles is deurmekaar. Niks maak werklik sin nie. Dit voel asof die dinge wat met my gebeur net nie waar kan wees nie. En daarby voel dit asof dié dinge waarin ek glo nie enige verskil aan die lewe hier op aarde maak nie. Die lewe bly deurmekaar. Dit bestaan steeds uit trane, lyding en nood. Dit vang ons gedagtes so vas dat ons aan niks anders kan dink nie. Ons is dalk geneig om met die persoon saam te stem wat die volgende oor die nagmerrielewe gesê het: Die werklikheid van hierdie lewe is te waar om mooi te wees.

Tog is hierdie mistroostige siening van die lewe nie waar nie. Die waarheid van die Christen se lewe is juis dat dit nie 'n nagmerrie is nie. Nee, God het ons lewe so aan die lewe van sy Seun kom verbind, dat die aaklige bestaan wat ons vroeër beleef het, nou nie meer 'n kenmerk van ons lewe is nie. Ons gedagtes word nie meer deur die skrikwekkende dinge (soos pandemies) of die sinloosheid van ons bestaan, “die dinge wat op die aarde is”, in beslag geneem nie (Kol 3:3). Nee, ons lewe het 'n nuwe betekenis gekry. Die betekenis kan ons in een woord saamvat: Christus. Christus is die betekenis van ons lewe (Kol 3:4; Filip 1: 21).

Ons het 'n lewe geleef wat deur wanhoop gekenmerk was. 'n Lewe van trane en hartseer. Elke dag het my uitsig na die ware betekenis van my lewe soos 'n misbank versper. Daardie lewe behoort nou tot die verlede. Dit het gesterf (Kol 3:3) en 'n nuwe lewe het begin. Ons is saam met Christus uit die dood van ons sinlose bestaan opgewek. Nou lewe ons 'n nuwe lewe. Dit is 'n lewe van hoop en betekenis. Dit is 'n lewe waarin ons God se diens die eerste plek in ons lewe gee (Kol 3:1). Dit is 'n lewe waarin ons gedagtes nie meer deur die aardse dinge in beslag geneem word nie, maar deur die heerlikheid wat met Christus se wederkoms op ons wag (Kol 3:4).

Hoe kry ons lewe hierdie nuwe betekenis en hoop? Ons lewe hier op aarde is 'n nuwe lewe wat ons deur die opstanding van Christus verkry het. Dit is 'n lewe wat deur God self beskik word (Kol 3:3). Dit is 'n lewe wat nie net betekenis vir vandag, in ons lyding en krisis(se) het nie, maar ook vir die lewe hierna (Kol 3:4). So voel dit of ons lewe nou te goed is om waar te wees. Die enigste verskil is dat dit nie so hoef te voel nie. Ons kan weet ons lewe is goed omdat Christus waar is.

Uit: Byderwets en byderwoords – saamgestel deur Annes Nel (Met vriendelike toestemming van die Christelike Uitgewersmaatskappy)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css