Die Weg

 

Openbaring: Jesus Christus verskyn aan Johannes op Patmos

(Nr 2 van 'n reeks)

Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het.” - Openbaring 1:1-2.

In die vorige boodskap is daar verwys na Jesus Christus se profesieë oor die eindtyd. Daar is onder andere gepraat van die groot afval, die minagting vir die Wet van God en die morele verval. En elke gelowige wat oor hierdie dinge besorg is, moet weet dat dit wel so geprofeteer is en dat dit vasstaan. Dit beteken egter nie dat ons maar net agteroor moet sit en nie ons Christelike roeping moet uitleef nie. Ons moet steeds helder lampe in 'n donker wêreld wees.

Voordat ons by die apokaliptiese deel (eindtyd gebeure) van Openbaring kan uitkom, moet ons eers kyk wie die werklike outeur van die boek Openbaring is, en waarom Openbaring aan ons gegee is.

Die boek Openbaring kan beskou word as bestaande uit 'n inleiding, waar Jesus in 'n visioen aan Johannes verskyn; 'n tweede deel wat 'n opdrag aan Johannes is om die kerk (die gemeentes) te vermaan en te vertroos sodat hulle staande kan bly in alles wat nog moet kom; die laaste deel wat handel oor die apokaliptiese visioene.

Ons moet onthou dat in alle profetiese boeke in die Bybel, en dus ook in Openbaring, van simboliek en beeldspraak gebruik gemaak word. Daarby speel getalle 'n baie belangrike rol. Die getal sewe kom dikwels in die Bybel en ook hier in Openbaring voor. Dit verwys na die volheid, voltooiing, totaliteit en omvattendheid van die skepping en van God in sy heerlikheid. En dus, as Johannes aan die sewe gemeentes in Klein-Asië skryf (wat wel bestaan het), is dit ook gerig aan die kerk in sy totaliteit. Meer hieroor later.

In die inleiding van die boek sien ons hoe Jesus Christus in sy volle heerlikheid aan Johannes verskyn. Dit was dieselfde Jesus van wie ons in die evangelies lees. Tog is daar 'n verskil. In die evangelies sien ons hoe Hy mense geleer het en saam met die dissipels aan tafel gesit het. In Johannes 13:22 het dieselfde Johannes aan tafel teen Jesus aangeleun. Jesus Christus was mens onder die mense. Maar nou het Hy in al sy heerlikheid in 'n visioen aan Johannes verskyn. Toe Johannes vir Jesus sien, het Johannes “aan sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is.” Hoe 'n kontras vorm dit nie met sy koms na die aarde by die krip in Bethlehem nie! Hy is beslis ook nie wat die bekende liedjie uitsing: ”gentle Jesus, meek and mild” nie. Dan sê Hy vir Johannes: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid, en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”

Johannes het vir Jesus tussen die sewe goue kandelare gesien. Die sewe kandelare (die sewe gemeentes, en dus in breër terme, die kerk in sy totaliteit) weerkaats of roem die heerlikheid van Jesus Christus. En in hierdie heerlikheid staan Jesus Christus sentraal.

Jesus het 'n lang kleed aangehad en 'n goue band om sy bors gedra. Vergelyk dit met die kleed van die hoëpriester in Eksodus 28:4-8 en Jesus Christus as Hoëpriester waarvan ons lees in Hebreërs 8:1. Sy hare was wit soos wit wol, soos sneeu, as die toonbeeld van reinheid, wysheid en majesteit (sien ook Daniël 7:9). Sy oë het gevlam soos vuur wat alles deursoek. Sy voete was soos geelkoper wat gloei in 'n smeltoond. Dit spreek van sy heiligheid en heerlikheid wat alle teenstand en sonde verteer. Sy stem was soos die gedruis van 'n groot watermassa wat alles oorheers. Ook die visioen van Esegiël praat daarvan: “En as hulle gaan, het ek die geruis van hulle vlerke gehoor soos die geruis van baie waters, soos die stem van die Almagtige - ’n gedruis soos die gedreun van ‘n leër.” (Esg 1:24). In sy regterhand het Hy sewe sterre vasgehou. Dit is die boodskappers (leraars) wat die heerlikheid van Jesus Christus moet verkondig. 'n Skerp swaard met twee snykante het uit sy mond uitgekom wat wys dat Hy die Regter is oor alle volke. Dit laat 'n mens dink aan wat in Hebreërs 4:12-13 staan: “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart. Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. En aan Hom moet ons rekenskap gee.

(Volgende keer: vermaning en troos)

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css