Die Weg

 

Moenie dat vrees jou oorweldig nie

Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.” - Romeine 8:15.

In die vorige boodskap het ons gesien hoe die wyses en verstandiges van die volk deur vrees beetgepak is, en dan hulle redding by 'n wêreldse mag gaan soek het. Om daarby aan te sluit herhaal ek graag hierdie boodskap uit 2018. -------

Ons lewe almal onder die slawerny van vrees. Vrees en angs is wat die wêreld ons vandag bied. Vrees is ook 'n werktuig in die hande van húlle wat oor ander mense mag wil uitoefen. Vrees het immers die potensiaal om 'n mens se gees sowel as sy liggaam te verlam en te vernietig, en om jou in rigtings te stuur wat God in die eerste plek nie vir jou bestem het nie. Die Bybel sê nie verniet nie: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë.” (1 Pet 5:8-9). En watter beter werktuig het die duiwel nie as om die mens se gees deur vrees te vernietig nie.

Die geskiedenis leer ons hoe die duiwel deur die eeue mense in magsposisies (of dalk gewaande magsposisies) gebruik het om gelowiges se moed te probeer breek. Hy gebruik vrees om mense kragteloos te maak sodat hulle beïnvloed en gemanipuleer kan word. Dan kom hy met die gees van die leuen wat hy as die lig vir die mense voorhou. So word hulle verder die duisternis ingedryf, want kort voor lank word hierdie nuutgevonde “lig” geblus en gee dit aanleiding tot depressie, woede en haat... En dan het die Bose die oorhand. Met hierdie mense as sy werktuig probeer die duiwel om sy doel te bereik.... om Christus en die Gees van die Waarheid uit jou lewe uit te druk (as hy kan).

Maar daar is 'n teenvoeter teen dit alles. Die Here sê telkemale vir ons: “Vrees nie”. Jesus Christus het gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Joh 8:12; 83-vertaling).“Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.” (Mat 10:26; 83-vertaling). “Moenie vrees nie, want Ek is die lig vir die wêreld.” ...... Ons het deur Christus die Gees van die Waarheid ontvang (vgl Joh 16:13). Ons moet dus onderskei tussen die Gees van die Waarheid en die gees van die leuen wat die wêreld in ons wil laat posvat. Die Gees van die Waarheid dryf die vrees uit en bring nuwe hoop en vertroue.

'God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan 'n mens aan my doen?”' (Heb 13:5-6; 83-vertaling).

Watter groter versekering het ons nie in die lewe nie, as dié van God: “Ek sal jou nooit verlaat nie....” Daarom kan ons met vertroue agterna sê: “Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie...” Met ander woorde, ek moet nie toelaat, en sal nie toelaat, dat mense my lewe beheers en my gees gevange hou nie. Dit beteken nie dat ek geen vrees sal voel nie, maar wél dat God se woorde van versekering my krag en steun sal wees. Ongelukkig begin ons geloof wankel wanneer vrees ons gedagtes oorneem en dan vergeet ons van God se versekering. Ons vergeet om geestelik diep asem te haal.

Kom laat ons die vrees wat mense op ons lê, teëstaan.

'Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.'(Rom 8:15).

- dw-

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css