Die Weg

 

Geloof dryf die vrees uit

“Luister na My, my volk, my volk, gee aandag aan wat Ek sê: My onderrig sal uitgaan na die volke toe, my wil sal vir die nasies die koers aanwys. Die redding wat Ek bring, kom baie gou, die verlossing wat Ek bewerk, is op pad, Ek self regeer oor die nasies. Die eilande wag op My, hulle wag dat Ek My laat geld. Kyk op na die hemel, kyk na die aarde hier onder: die hemel sal soos rook verdwyn, die aarde sal word soos ou klere, en almal wat daarop woon, sal doodgaan soos muggies, maar die verlossing wat Ek bewerk, sal vir altyd wees, die redding wat Ek bring, sal altyd bly. Luister na My, julle wat doen wat reg is, volk in wie se hart my wet is, moenie bang wees vir die spot van mense nie, moenie skrik as hulle julle beledig nie. Hulle is soos lap wat deur motte gevreet word, soos wol wat deur vismotte verniel word. Maar die redding wat Ek bring, sal vir altyd wees, die verlossing wat Ek bewerk, sal daar wees vir elke geslag. Ek is die Here, Ek bring uitkoms vir julle. Hoe is dit dan dat jy bang is vir 'n sterflike mens, vir 'n mens wat so maklik vergaan soos gras?Jy vergeet die Here wat jou gemaak het, wat die hemel oopgespan het, wat die aarde se fondamente gelê het. Jy was altyddeur bang vir die woede van die verdrukker, vir hom wat daarop uit was om jou te vernietig, maar waar is die woede van jou verdrukker nou?” - Jesaja 51:4-8; 12 en 13.

“Maar dadelik, toe Jesus die woord hoor wat gespreek is, sê Hy vir die owerste van die sinagoge: Moenie vrees nie; glo net.” - Markus 5:36 (53-vertaling).

Vrees is onlosmaaklik deel van die lewe. Maar waar geloof is, dáár word die vrees uitgedryf.

Moenie vrees nie (53-vertaling). Jaïres val voor Jesus se voete neer en smeek Hom om na sy huis te kom om sy hande op sy sterwende dogtertjie te lê. Jesus gaan saam maar word deur die skare verdring. Inmiddels raak 'n vrou Hom aan wat van haar siekte genees wil word. Jesus voel hoe krag van Hom uitgaan. Dan volg 'n gesprek. Vir Jaïres beteken dit onnodige oponthoud wat slegte gevolge kan hê.

Dit is 'n merkwaardige ervaring: die wonderbare bevryding van die vrou vind plaas terwyl die mense in die huis van Jaïres in doodsangs by die siekbed van die kind staan en wag. En die Meester daag nie op nie. Alles hang daarvan af of Hy betyds sal wees. Die mense se hoop verdwyn – die kind sterf. Jesus is te laat. Jaïres weet dit nog nie. Hy wil as't ware Jesus met hom meesleep. Dan kom die tyding: dit is nie meer nodig nie, moenie die Meester meer lastig val nie; die kind is dood. Vir hulle hou die menslike verwagting op. Die vader van die kind is ontsteld. Nou gee hy ook op met sy volharding. Verslae laat hy sy arms sak. Sy woorde verstom. Hy staar met vertwyfeling na Jesus. Die mens staan magteloos voor 'n geslote deur.

Wat is vrees werklik? Vrees is om jou aandag te vestig op die magte van die duisternis. Die duisternis oefen sy mag op die mens uit deur toegang te kry tot die siel. Wie sidder nie as siektes en gevare hulle bestaan bedreig nie? Vroeër of later kom ons almal voor die verskrikking te staan wat die lewe van onsself of van ons geliefdes wil opeis. Watter houvas het ons dan nog? Wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, word aangetas: ons geliefdes, ons besittings, ons gesondheid, ons posisie...... Dan kom die aanvegtinge teen ons geloof. Die vreeslikste gedagtes styg in ons binneste op; dinge wat ons gedink het ons in toom sou kon hou. In die goeie tye het ons gedink dat ons bo versoekinge verhewe is. En dan ontdek ons dat ons swakker is as wat ons gedink het.

Vrees verlam ons wanneer ons gekonfronteer word met die aanslae van die duistere wêreldmagte; ons word bewus van ons nietigheid. Wat kan ons geringe mense doen teen die storms wat oor ons heen woed? Daar is oomblikke dat ons ineenkrimp tot 'n nietige, verkluimde, weerlose prooi; 'n bang, natte, bewende voëltjie; net 'n balletjie ellende en vrees. Maar ons het God se groot mag vergeet, ons vra nie na Hom nie, ons verwag niks, daar is geen uitsig meer nie. Ons gee onsself oor aan die spel van die duistere golwe, soos 'n skeepskaptein wat sy masjiene afskakel en die stuur van sy boot verlaat. Waar ons sal eindig weet ons nie. Ons word heen en weer geslinger deur 'n noodlot wat sy blinde oormag oor ons uitoefen.

Glo net, sê Jesus aan Jaïrus in sy uur van totale hulpeloosheid. Wát hy moet glo word nie duidelik uitgespel nie. Jesus staan daar, dit is 'n feit. Hy het nog niks “gedoen” nie. Maar Hy is daar. Deur Hom te sien en te erken en die mag van sy nabyheid te ervaar is die eerste houvas. Weliswaar staan die berig van die dood van sy kind nog steeds vas. Ook dit bly 'n ontsettende en onverteerbare feit. Glo nét, dws, daar mag niks anders in sy gees wees wat sy geloof vertroebel nie.

Ons gevoelens oorheers meermale ons geloof. Dit moenie so wees nie. Ons moet altyd ons blik op Jesus Christus vestig en aan Hom vashou. In goeie tye kan ons maklik oor geloof praat, maar in tyd van benoudheid word dit op die proef gestel. Dit kan gebeur dat ons gewaande geloof nie volhoubaar is as ons voor die grense van die lewe te staan kom nie. In die Bybel sien ons dat geloof alleen die enigste toevlug is: om jou op God te verlaat Wie se mag verby ons horison heen strek.

Vrees beperk ons uitsig. Geloof daarenteen strek verby die grense van ons menslike vermoëns. Jaïrus glo en hy gee homself oor aan die mag van Jesus Christus; hy word opgeneem in die gang van Jesus se werk .... en dan dryf geloof die vrees uit. Hy gaan met Jesus die huis van die dood binne, verby al die treurende mense wat vasgevang is in hul wanhoop. Jesus laat almal uitgaan. Waar Hy werk geskied 'n wonder, dit word 'n heiligdom. Daar mag niks in die weg kom nie, geen ongeloof of blote nuuskierigheid nie.

Waar Christus in die lewe werksaam is, is daar stilte en rus. Niks moet dit versteur nie. Ook die vrees word uitgeban.  “Al gaan ek ook in ‘n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie” (Psalm 23:4; 53-vertaling).

Verwerk uit: Overjarige postille – dr EL Smelik.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css