Die Weg

 

Vryheid as gawe om te dien

Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde” - Galasiërs 5:13.

Vryheid is 'n inspirerende, soms selfs bedwelmende woord. Ons vind dit in die begeertes van die jeug; dit is die integrale deel van die strewes van 'n volk; dit gee krag aan allerhande betogings....... Die sug na vryheid het baie oorloë en opstande tot gevolg gehad. Die verlede word gesien as kettings en mag word gesien as onderdrukking. Mense marsjeer met geesdrif en moed agter die vaandel van vryheid aan.

Maar 'n mens kan maklik 'n gevaarlike spel met hierdie woord speel. Daar moet inhoud aan hierdie woord gegee word, want vryheid vir een groep mense is nie noodwendig vryheid vir 'n ander nie. Dit lei dan tot stryd omdat elke groep dink dat húlle reg is en die ander verkeerd. Wanneer Jesus praat van vry wees, voeg Hy by dat ware vryheid slegs deur die Seun kom: “Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees” (Joh. 8:36). Baie dinge word as vryheid beskou wat geen vryheid is nie, bv, die vryheid wat die Jode met selfvoldaanheid aan hulself toegeskryf het: “Ons is die nageslag van Abraham en was nog nooit iemand se slawe nie” (Joh 8:33). 'n Volkstrots wat, indien nodig, met behulp van baie verdigsels gestut kon word.

Die woord vryheid kom telkemale in die evangelies en die briewe van die apostels voor. En dit is juis dáárin dat 'n mens duidelik kan sien hoe hierdie woord sy werklike betekenis kry uit die agtergrond en konteks waarin dit voorkom. As jy dit nie in samehang met die agtergrond beskou nie, kan dit tot verwarring lei. Ons sien 'n voorbeeld daarvan in Paulus se brief aan Filemon. Die woord vryheid, wat so dikwels in die Christelike gemeente gebruik is, is met groot geesdrif deur die slaaf Onesimus op homself van toepassing gemaak. Hy het die woord vryheid in dade omgesit en van sy heer weggeloop. Dit moes vir Onesimus 'n teleurstelling gewees het toe Paulus hom daaroor aangespreek het. Ons sien ook uit die geskiedenis hoe mense die Christelike vryheidsprediking gebruik het om hul politieke doelwitte te steun. 'n Mens moet dus oppas om nie vryheid met politiek te meng nie. 'n Mens kan heel moontlik politieke vryheid bereik sonder om 'n enkele tree te vorder in die werklike vryheid wat uit die geloof in Jesus Christus kom. Daarom is Paulus se prediking oor vryheid tegelyk 'n juigkreet en 'n waarskuwing.

Ware geloof beteken bevryding en elke geloofsvernuwing lei tot 'n verdieping van die vryheid. ’n Mens wat Christus vind word vry van die mag van sonde, vry van die wêreldse magte wat hulle wil beheers, vry van onnodige knellende voorskrifte soos in die Jodendom, vry van verstikkende tradisies, van dooie gewoontes, vry van die ban van 'n “noodlot”, en sterrewiggelary. Die Reformasie het hierdie vryheid in Christus na vore gebring. As 'n mens die boek van Martin Luther “Oor die Vryheid van die Christen” uit 1520 lees, kom jy onder die indruk van 'n mens wat moes ontsnap uit die dwang en verskrikking wat die Roomse Kerk op die mense gelê het. Byna triomfantelik klink sy eerste stelling daarin: 'n Christen is in vryheid 'n heer van alle dinge en niemand se onderdaan nie (sien sy 2de stelling hieronder). As jy vry wil wees, moet jy eers vrygemaak word. En hierdie vrymaak is 'n daad van God. Jesus het gesê: “Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees” (Joh 8:36). Die Israeliete is uit die slawehuis van Egipte uitgelei en 'n gedeelte van die volk is later uit die ballingskap teruggebring. Maar, met die vryheid wat so verkry is, moet 'n mens nie ligtelik omgaan nie, anders word dit gewaande vryheid.

Daarom is daar in ons teks ook 'n waarskuwing teen die afwatering van die woord vryheid. Dit bly 'n roeping, 'n opdrag. Daarom roep Paulus ons op om te besin, nie alleen oor dít waarvan ons bevry moet word nie, maar ook op die vraag waartoe 'n mens bevry is. Daar word in één woord gesê: om mekaar deur liefde te dien. Dit is 'n merkwaardige teenstelling wat altyd by hierdie woord voorkom! Vryheid is gerig op diens, dit wil sê op nuwe gebondenheid. Ook Luther het dit duidelik begryp. Die tweede stelling in sy geskrif hierbo genoem, lui: 'n Christen is 'n dienaar van alle dinge en onderdaan van almal. Dit is nie net 'n spel van woorde nie, maar dit vloei voort uit die wesenlike bestel van dinge. Die mens wat vrygemaak is omdat hy met Christus in aanraking gekom het, deel in sy bevrydende krag. Christus leer ons om die slawerny waaraan ons gebonde is, raak te sien, en om verantwoordelikheid te neem vir die naaste en die samelewing wat deur daardie “magte” vasgevang is. So begin die Christelike bediening, die kruistog van bevryding, wat in die boek Handelinge begin en deur die geskiedenis voortduur.

Vryheid beteken nie los-bandig-heid nie. Daar is 'n band waarbinne jy vry kan beweeg. Baie mense sien dit nie raak nie. 'n Trein het slegs bewegingsvryheid as dit op die vaste spoorstawe geplaas word; 'n vis vind vryheid om te lewe deur die water waarin hy kan beweeg. Ware vryheid luister na die wette. Die digter van Psalm 119 vind sy vryheid, sy ruimte, in die wet van God (v 45). In valse vryheid word die mens (uit)geleef, in ware vryheid leef die mens. Paulus sê dat sedert hy slaaf van Christus geword het, “het die wet van die Gees van die lewe hom vrygemaak van die wet van sonde en dood” (Rom 8:2).

Verwerk uit: Overjarige postille, deur dr EL Smelik.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css