Die Weg

 

Om nie moeg en moedeloos te word nie

“Ander weer het bespotting en lyfstraf verduur, selfs boeie en gevangenskap. Gelowiges is met klippe doodgegooi, in stukke gesaag, met die swaard vermoor. Hulle het rondgeswerf in skaapvelle en in bokvelle. Hulle het gebrek gely, is verdruk en mishandel. Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.” - Hebreërs 11:36-38.

Baie mense verkeer onder die valse indruk dat die pad van die Christen-gelowige met rose besaai behoort te lê; dat ons altyd met materiële seëninge oorlaai sal word; dat al die pyn en die smart van hierdie wêreld vir ons gespaar sal word. Dit is immers wat die welvaartspredikers vir ons voorhou! Maar as ons na die werklike feite uit die geskiedenis kyk, sien ons iets heeltemal anders. Dit word vir ons in Hebreërs 11:36-40 baie mooi saamgevat.

Ons sien dit ook in die lewe van Paulus. Hy is self vir ons 'n voorbeeld van 'n mens wat baie lyding deurstaan het. Kort nadat hy tot bekering gekom het, moes hy vir sy lewe vlug (Hand 9:25). In Antiochië is hy en die mense by hom, beledig en uit die streek verdrywe (Hand 13:44, 50). In Listra is hy met klippe gegooi totdat hulle gedink het dat hy dood was en is hy uit die stad gesleep (Hand 14:19). In Filippi is Paulus en Silas in die tronk gegooi. In Tessalonika het die stad in opstand teen hulle gekom (Hand 17:5). In Athene is hy uitgelag (Hand 17:32). In Korinte is hy voor die hof gesleep (Hand 18:12). In Jerusalem wou die mense hom doodmaak; hy is geslaan en met kettings geboei (Hand 21:30-33). In Sesaria is hy vir meer as twee jaar in die gevangenis aangehou (Hand 24:27). As gevangene is hy weggestuur na Rome (Hand 27). Op pad het hy skipbreuk gely (Hand 27:39-44). Vir die res van sy lewe was hy 'n gevangene in Rome (Hand 28). Hy het soos baie ander Christene heel waarskynlik 'n martelaarsdood onder Keiser Nero gesterf.

Van betekenis is ook die stukkie geskiedenis van Paulus se skipbreuk. Alhoewel 'n engel in die nag aan Paulus verskyn het en hom meegedeel het dat niemand hulle lewe sou verloor nie, het daar nie uit die bloute 'n ander skip opgedaag wat hulle aan boord geneem het nie! Nee, almal aan boord en Paulus inkluis, moes die woeste golwe trotseer: “Maar die skip het op 'n sandbank geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe is deur die geweld van die golwe stukkend geslaan... Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en land toe te swem. Die ander moes dan volg deur aan planke en ander wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het almal veilig aan land gekom.” (Hand 27:41-44).

Dit is ook die realiteit van die lewe vir my en vir jou. Die voorsienigheid en die beloftes van God onthef ons nie van swaarkry op ons lewenspad nie. Almal van ons moet beproewinge in die lewe deurstaan, sommige minder, ander weer meer. Maar deur swaarkry heen moet ons steeds bly glo in Christus en ons oë op Hom vestig. Só word ons geloof steeds sterker sodat ons ééndag vir altyd in sy heerlikheid kan deel.

“Laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. Hou Hom voor oë wat so 'n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.” (Heb 12:1-3).

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css