Die Weg

 

Om opreg te lewe

“Opreg moet jy wees met die HERE jou God.” - Deuteronomium 18:13.

Salig wie in hul opregtheid
wandel in die Heer se wet;

So prys die psalmdigter die mens gelukkig wat in opregtheid voor sy God leef. In so 'n lewe is daar geen kronkelgange en verborge skuilhoeke nie. Dis nie 'n witgepleisterde graf wat binne vol doodsbeendere is nie (Matt 23:27), maar egtheid en ongeveinsdheid is die kenmerke van hierdie lewe. Skyngodsdiens is nie net die mens onwaardig nie, maar dit word ook ten strengste deur God se woord afgekeur.

Tog moet ons toegee dat opregtheid nie altyd by almal aangetref word wat hulle op die Naam van Christus beroep en hulself Christene noem nie. As die hart maar blootgelê sou word, wat sou nie daaruit voortkom nie? Waar dié opregtheid ontbreek, moet die bede op die lippe wees: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my 'n weg is van smart, en lei my op die ewige weg.”  (Ps 139:23-24).

Gelukkig is die mens wat hom elke môre by vernuwing voor God kan stel en elke aand hom voor Hom kan neerlê. Die gedagte dat die Here hom “deurgrond en ken” moet die mens nie afskrik nie, eerder is dit bemoedigend om te weet dat Hy ons swakhede ken. Hy is vergewensgesind en kom ons swakhede te hulp. As ons maar in opregtheid sy lig op ons sondes wil laat skyn, sal ons leer om daarvan af te sien en dit te haat. Ons sal minder bekommerd wees oor wat ander mense van ons lewe dink en sê. Nie ander mense bepaal die maatstaf vir ons lewe nie, maar dit kom daarop aan watter gedagtes God oor ons koester.

Ds SP Viljoen in: Bybelse Dagboek onder redaksie van ds JGM Dreyer, dr B Gemser, dr JH Greyvenstein en dr HP Wolmarans.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css