Die Weg

 

Oor die wingerdstok en die lote

“Julle moet in My bly en Ek in julle. 'n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie.” - Johannes 15:4.

In Johannes 15 het Jesus al baie naby aan die einde van sy aardse lewe gekom en is dit ook die laaste onderwysing aan sy dissipels.

Dit is 'n baie treffende beeld wat Jesus hier gebruik om die innige verhouding wat daar tussen Hom en sy dissipels bestaan aan te dui. Jesus is die wingerdstok en die dissipels is die lote. As 'n loot van die wingerdstok afgebreek word, verdor die loot en daar sal nie druiwe aan hom kom nie. Die loot wat vrugbaar wil wees, kan eenvoudig nie sonder die wingerdstok bestaan nie. Die wingerdstok kan nog wel sonder die loot, want op 'n gegewe tyd sal daar weer nuwe lote uitspruit wat wel vrug sal dra. Maar wil die loot lewe, dan moet hy ingegroei wees in die wingerdstok.

Maar van die loot word méér verwag as om net te lewe. Hy moet ook vrug dra. Want elke loot wat nie vrug dra nie, word deur die landbouer weggesnoei. Hy is mos nutteloos, ja selfs skadelik, want hy benadeel die ander.

Van ons word verwag dat ons vrugbare lote sal wees. En die enigste moontlikheid daartoe is om Jesus se woorde “Bly in My” in ons lewe toe te pas. Want Jesus alleen is die ryke bron waaruit ons krag kan put. “Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra baie vrug.”  As die loot in die wingerdstok bly, skenk die wingerdstok hom voedingstof. So is dit ook in ons verhouding tot Christus. Die krag van Christus sal in ons oorvloei as ons “in Christus” is.

Ds W van Bergen in: Bybelse Dagboek onder redaksie van ds JGM Dreyer, dr B Gemser, dr JH Greyvenstein en dr HP Wolmarans.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css