Die Weg

 

Na die Paasfees - die Opstanding

“Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan.” - Lukas 24:6.

Vir sy dissipels was dit 'n verbysterende slag toe Jesus op die heuwel van Golgota gesterwe net. Die jubelende Hosannas waarmee die volk Hom so 'n kort rukkie gelede Jerusalem binnegelei het, het nog in hulle ore weerklink. En nou het hulle Meester soos 'n gewone misdadiger gesterwe.

In die tyd dat hulle Hom in sy omwandeling gevolg het, het die hoop binne hulle gegroei - hulle het gehoop dat dit “Hy was wat Israel sou verlos”.

En nou lê hulle hoop aan skerwe, en hulle verwagtinge is vernietig. En dan, onverwags, kom die tyding: “Die Here het opgestaan.” Hulle staan verbyster by dié tyding. Daaraan het hulle nie gedink nie, kón hulle nie dink nie. Die Here opgestaan? Kan dit waar wees? In die ontsteltenis van hulle smart klink daardie heuglike tyding na onsinnige praatjies.

En dan by die graf die ontnugtering: “Hy ís nie hier nie, maar Hy het opgestaan.” Dan is dit waar! Die donker wolke het verbygedryf, en die lig breek deur. Nou was hulle weer met moed en hoop vervul.

Voortaan gaan hulle die wêreld deur, om as gesante van hulle Koning, orals te verkondig: “Die Here het opgestaan!”

Dit is nie hulle wat die evangelie van die opstanding dra nie, maar die evangelie dra húlle. Dit is nie hulle wat krampagtig daaraan vashou nie, maar dit hou húlle vas, ja ondersteun hulle onder die moeilikste lewensomstandighede, ja deur die dood heen.

Opstanding is oorwinning, oorwinning oor sonde, graf en dood. Deur sy opstanding, deur sy oorwinning oor graf en dood, het Jesus lewensmag verwerf, en dié deel Hy mee aan sy volgelinge. So is ons redding moontlik, en werklik.

Daarom is die dood vir die gelowige nie maar die einde van sy aardse lewe nie, maar toegang, deurgang, ingang tot die Ewige lewe.

Dr JH Greyvenstein in: Bybelse Dagboek onder redaksie van ds JGM Dreyer, dr B Gemser, dr JH Greyvenstein en dr HP Wolmarans
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css