Die Weg

 

Sekerheid na twyfel

“En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” - Johannes 20:25.

En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” - Johannes 20:28.

Ons dink gewoonlik dat Thomas ongelowig was. Dit was hy egter nie. Om ongelowig te wees beteken om nie in hoër dinge te glo nie, en om die bestaan van God en die ewige lewe te ontken. Thomas was egter 'n twyfelaar wat maar nie tot sekerheid aangaande die ewige dinge kon kom nie. In sy swaarmoedigheid was hy nie oop vir dít wat van God af kom nie.

Ons weet maar min van Thomas, maar in wat ons van hom lees, kom sy karakter duidelik te voorskyn. Hy was 'n swaarmoedige, maar tog eerlike en getroue man.

Sy getrouheid sien ons by geleentheid toe Jesus, na die dood van Lasarus, na Betanië sou gaan. Kort tevore wou die Jode Jesus stenig, en omdat die dissipels bang was dat sy lewe daar in gevaar sou wees, wou hulle Hom verhinder om daarheen te vertrek. Toe Jesus beslis wou gaan, het Thomas gesê: “Laat ons ook gaan om saam met Hom te sterwe.”

Maar Thomas is die twyfelaar wat met moeite aan die werklikheid van die Here Jesus se goddelikheid kon glo. Ons sien dit waar Jesus in die afwesigheid van Thomas aan die elf verskyn het. Vol blydskap vertel die ander dissipels vir Thomas dat Jesus lewe en dat hulle Hom gesien het. Dit kon Thomas nie glo nie. Hy sou dit eers glo as hy dit met sy eie oë gesien het.

By sy twyfel het Thomas egter eerlik verlang om God te ken en tot sekerheid te kom. En die Heiland sou hom uit die duisternis van sy gemoed lei tot Sý wonderbare lig.

Die Here Jesus verskyn na sy opstanding nie aan ongelowiges en buitestaanders nie, maar slegs aan hulle wat ontvanklik was vir die dinge van die ewigheid. En Thomas was by al sy twyfel tóg oop vir die hoër dinge. Hy het egter nog vir die harde werklikheid gelewe. Met sy eie oë het hy sy Meester aan die kruis sien sterwe. Selfs die besielde, stralende oë van die ander dissipels wat Jesus gesien het, kon hom nie ophef uit sy swaarmoedigheid nie. Hy sou slegs kon glo as hy homself met sy eie sintuie van die waarheid daarvan oortuig het. Hy kon nie lewe by inbeeldinge en ander se ervaringe nie, want sy gees roep om tasbare, onwrikbare feite.

Jesus verskyn vir 'n tweede keer aan sy dissipels waar Thomas ook teenwoordig is. Hy rig Hom dan in die besonder tot Thomas, omdat veral hý dit nodig gehad het. Hy sê vir Thomas: “Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.”

Watter gewaarwordinge moes dit nie in die siel van Thomas wakker geroep het nie! Meteens het hy daarvan bewus geword dat Jesus hom deurgrond en ken. Daar kom egter geen woord van verwyt uit die mond van Jesus nie, maar alleen die uiting van sy liefde. Dit genees Thomas van sy twyfel en laat hom in aanbidding neersink: “My Here en my God!” Dit is Jesus, opgestaan uit die dode! En Thomas gee hom volkome aan Jesus oor in volle aanbidding.

Salig is elkeen wat voor Jesus Christus in aanbidding neerbuig, want hulle ontvang heilsekerheid en sielevreugde.

Ds JD Storm in: Bybelse Dagboek onder redaksie van ds JGM Dreyer, dr B Gemser, dr JH Greyvenstein en dr HP Wolmarans (verwerk).
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css