Die Weg

 

Vertroosting van die Here as die Heilige van Israel

(Kort reeks uit Jesaja, nr 14)

Die Here het gesê: Vul die pad op, vul dit op, maak dit gereed! Verwyder die struikelblokke uit die pad van my volk. So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in 'n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes. Ek reken nie vir altyd sondes toe nie, Ek bly nie vir altyd toornig nie,want anders sou dit die einde beteken van die mens, die mens aan wie Ek die asem gegee het. Ek het toornig geword oor my volk se sonde en hebsug, Ek het hom geslaan en hom verlaat omdat Ek toornig was. Hy was opstandig en het sy eie koers ingeslaan. Ek het gesien wat met hom gebeur, en Ek sal hom genees. Dié van hom wat treur, sal Ek lei en terugbring; Ek sal vir hulle uitkoms gee. Ek stel hulle in staat om My weer te loof. Vrede vir dié wat ver is, vrede vir dié wat naby is, sê die Here. Ek sal hulle genees. Maar die goddeloses is soos die onstuimige see wat nie tot rus kan kom nie en waarvan die golwe aanhou om slyk en modder uit te stoot. Vir die goddeloses is daar geen vrede nie, sê my God.” - Jesaja 57-14-21 (83-vertaling).

Dit handel hier oor die tyd voordat Juda vanuit ballingskap na Palestina sou terugkeer. Die 70 jaar ballingskap in Babel het begin toe Jojakim en Jojagin konings oor Judea was.

Die geskiedenis van die volk Israel is een van afval van God en terugkeer na God, en weer van terugkeer na afval. Uiteindelik was daar geen genesing meer vir die volk van die Here nie. Daarom moes hulle in ballingskap weggevoer word, soos ons dit lees in Deuteronomium 4:27: “Die Here sal julle verstrooi onder die volke, net 'n klein klompie van julle sal oorbly onder die nasies waarheen die Here julle sal lei. Dáár sal julle gode dien wat deur mense gemaak is: hout en klip wat nie kan sien of hoor, eet of ruik nie.

Omdat God se volk die afgode wou dien, word hulle tot afgodediens veroordeel. Hulle het hul lewe by die afgode gesoek, en hulle sou nou ondervind wat dit beteken, nl die dood. Maar tog was God se oordeel gerig op die behoud van sy volk. Die Here het sy volk nie heeltemal verstoot nie. Hy wou vir hulle die magteloosheid van die afgode toon, daarna sou Hy hulle dan self weer verlos sodat hulle Hom weer kon loof. Só wou die Here hulle tot boetvaardigheid en berou bring. Dit is naamlik die verbryseldes en nederiges van gees (53-vertaling) – hulle wat hulle neergebuig het onder die hand van God, hulle wat die afgodediens afgesweer het en weer hunker na die gemeenskap met die Here om weer by Hom te woon.

En tot hulle kom nou die vertroosting waarmee die Here hul trane sal afvee. Hy, die Heilige van Israel, wat alles in die verlede gedoen het ter ere van sy grote Naam. Die Here, die Heilige van Israel, sal alles weer opbou wat Hy in sy toorn vernietig het – die stad en die tempel. Hy sal Jerusalem weer herbou en die tempel weer maak tot 'n huis van gebed. Die Here kan Homself nie verloën nie. Hy is nie 'n God wat iets begin en nie voleindig nie. Daarom sal Hy as die Hoë en Verhewene, die enigste God, in ewigheid sy troon in Jerusalem vestig. Dáár sal Hy luister na die verbryseldes en nederiges van gees, omdat hulle weer voor sy aangesig sal lewe met 'n lewensvreugde wat Hy alleen, as die Heilige van Israel, vir hulle kan gee: “Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep? En watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het..” (Deut 4:7-8; 53-vertaling). Want as die Here nie na hul gebede luister nie, is die dood vir goed hul voorland, en dan het die Here geen volk meer nie en was alles tevergeefs sedert die roeping van Abraham. Want uit hierdie volk sou eenmaal die Verlosser van die ganse mensdom te voorskyn tree.

Dit alles handel om die grote Naam van die Here: die herstel van die tempel en die stad Jerusalem vir die bewaring en vermeerdering van sy volk.

Daar kom 'n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel en Juda 'n nuwe verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees.” (Jer 31:31-33; Heb 8:8-10).

Uit: Gedenkt en Gelooft deur ds ET van den Born (verwerk en aangepas)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css