Die Weg

 

Is jy wie jy moet wees?

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.” - Romeine 12:2.

Ons is soms geneig om ander mense na te volg sodat ons nie uitgesluit sal voel nie. Daarom dink en doen ons soos hulle. Dit word dan die norm waarteen ons onsself meet. En as jy dalk nie met alles saamstem nie, weerhou jy jou tog daarvan om jou eie beginsels voorop te stel. Jy is bang vir “wat die mense sal sê!” En hierdie “groepsdruk” mag dalk net 'n bedreiging vir jou geestelike lewe inhou.

Maar die Woord van God laat jou anders na hierdie dinge kyk. As jy in die lig van God se Woord wandel, behoort jy te weet dat jy 'n Hemelse Vader het wat die skat van die Heilige Gees aan jou gegee het, sodat sy wil voorop in jou lewe kan staan. Daarvoor het Hy sekere geestelike gawes aan jou gegee (1 Kor 12:7-11; Rom 12:6-8; 1 Pet 4:10-11; Gal 5:22). Verder weet jy dat wat vandag bestaan, dalk môre nie meer sal wees nie, omdat alles op aarde aan verganklikheid onderworpe is (Ps 39:6). Jy weet dat wat in die verlede gebeur het waaroor jy berou het, nie saak maak by God nie, omdat Hy in Christus Jesus al jou sondes vergewe het (Heb 10:17). Jy weet dat wat die Here aan jou geskenk het, jy vandag met vreugde kan geniet, maar dat daar ook 'n verantwoordelikheid is om die Naam van God in alles te verheerlik (1 Tim 6:17). Jy weet dat die toekoms in God se hande is en dat Hy alleen weet wat op jou wag, omdat Hy die beskikker is van jou lewensweg - as jy maar net wil volg waarheen Hy jou lei (Ps 32:8). Jy weet dat ná hierdie aardse lewe daar 'n nuwe lewe op jou wag in die heerlikheid van die Vaderhuis (Joh 17:24; Mat 25:34; Rom 8:17; 1 Tes 4:17; Open 21:4). Dít moet jou denke en dade bepaal en hoe jy met ander omgaan.

En omdat die Heilige Gees in jou woon, kan jy ook die waarheid van die leuen onderskei. Hy rig jou hart en jou verstand sodat dít wat vir God aanneemlik is, by jou meer gewig sal dra as dit wat die mense rondom jou sê en doen (Heb 13:21).

As jy leef na die wil van God en nie omgee oor wat mense sê nie, nie dink en doen soos hulle nie, dan kan jy wees wie jy werklik MOET wees, bevry van die groepsdruk en goedkeuring van ander mense wat jou optrede wil bepaal. Jy word dan 'n sterk en vrygestelde persoonlikheid deur die krag van die Heilige Gees wat in jou woon. Jy raak jou ware self, soos God dit vir jou bestem het.

-dw-
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css