Die Weg

 

Sing lofliedere wanneer jy in nood verkeer

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing.” - Handelinge 16:25.

Hier lees ons van twee mense wat saam lofliedere sing. Dit mag dalk heel gewoon klink. Maar was dit heel gewoon? Nee, nie eintlik nie. Dit is veel eerder meer gewoon wanneer twee mense wat saam is, kwaad praat van iemand anders wat nie by hulle is nie. Óf hulle praat oor die moeilike tye, oor die agteruitgang van die land, oor die ekonomie wat in duie stort .....

“Nou ja”, sê iemand, “maar om 'n lofsang te sing, moet daar beslis rede voor wees.

Seker, maar miskien is die tyd van verdrukking tog nog die beste tyd om 'n lied te sing. Luther het dit ten minste so begryp. Toe hy erg in die moeilikheid was, het hy na sy vriend Melanchthon gegaan en gesê: “Philip, ons moet die 46ste Psalm bietjie saam sing.

En só het Paulus en Silas dit blykbaar óók begryp. Want hulle omstandighede was beslis nie só dat hulle 'n lofsang sou aanhef nie. Na 'n venynige geseling waarvan die spore op hul rûe nog sigbaar en voelbaar was, sit hulle in die stikdonker nag vasgeklem in 'n houtblok in 'n kerkerhool. En tog sing hul biddende lofsange tot die eer van God, soos bv: “Loof die Heer, o my siel, en alles wat binne my is, sy heilige Naam”, of iets dergeliks.

Dit sou meer begryplik gewees het as hulle hul lot bekla het. Hulle was daar in Filippi tog met God se werk besig, en het God hulle dan nie in die steek gelaat nie?

'n Mens kan jou voorstel dat Silas kon gesê het: “Ag Paulus, sou die Here dit wel weet, sou die Allerhoogste daarvan kennis dra?” Dan kon Paulus sê: “Ag my liewe broeder Silas, dit is juis wat die profeet ook gesê het: 'My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby?'” (Jes 40:27). Maar nee, dit hoor ons nie! Dan sou die duiwel sy sin gekry het. Want die duiwel sou van die geleentheid gebruik gemaak het ná alles wat hulle ter wille van Jesus se naam deurgemaak het. Toe dit donker was, kon die duiwel deur die klein venstertjie wat in die kerkermuur was, of waarlangs ook al, binnegekom en allerlei giftighede in die ore van die twee manne kom fluister het.

Maar toe het Paulus die woord geneem en gesê: “Silas, ons moet 'n lofsang sing.” En daar klink deur die stilte van die nag in die sombere kerkerhool: “Loof die Here, o my siel!

Dink ons nie dat die duiwel haastig weggevlug het nie? Nog vinniger as wat hy gekom het? Die duiwel is vir niks so bang as vir 'n lofsang tot die eer van God nie.

Laat ons dit maar goed onthou. Die duiwel dink dat hy sy slag met ons kan slaan wanneer ons verdruk word of in nood verkeer. Maar die siel wat 'n loflied sing, laat hom spoedig wegvlug.

Ken jy dit ook, liewe leser? 'n Lofsang in die verdrukking? Sommige vloek in lyding - vreeslik. Ander sug in lyding - doelloos. Nog ander swyg: “Ag, dit is geen mense wat dit jou aandoen nie!

Maar dit is mooi wat Paulus en Silas doen, en wat Job gedoen het, en wat sommige martelare gedoen het in die vuurvlamme, en wat sommige geloofshelde ook vandag nog doen: Sionsliedere sing in die verdrukking.

Hoe kon hulle dit doen? Omdat hulle 'n goeie gewete gehad het. Omdat hulle onvoorwaardelik geglo het: al gaan dit volgens ons insig verkeerd, dit gaan nooit verkeerd volgens God se insig nie. God weet dit beter as ons. Omdat hulle geweet het dis maar “'n verdrukking van tien dae” (Openb 2:10). Omdat hulle vasgehou het aan: “Want ek reken dat die lyding van die teenwoordige tyd nie opweeg teen die heerlikheid wat aan ons geopenbaar sal word nie.” ( Rom 8:18; 53-vertaling).

Deur die dak van die kerker en deur die donker nag daarbo-oor, het die geloofshelde uitsig op die Vaderhuis en hulle sien die lig daaruit straal, want dáár word feesgevier. En binnekort sal hulle ook hul plek daar inneem.

Gods woord hou stand in ewigheid,    
Geen mag kan dit laat wyk nie!      
Beef, Satan, God voer hier die stryd;
Sy trou sal nooit beswyk nie!!       
Al eis jy dan ons goed,              
Ons dierbares, ons bloed:            
Dit bring jou geen gewin -           
Ons gaan die hemel in,               
Jy roof ons nooit Gods ryk nie.

Hulle het hul oë op Jesus gehou: die Jesus van Getsemane, die Jesus van Golgotha, die Jesus met die doringkroon, en die Jesus van die kruis. En die Jesus op die troon.

Deur op te kyk na Jesus kon hulle liedere sing in die verdrukking.

Kyk op na Jesus. Dit is die geheim.

Uit: De blijde Reis, deur ds DA van den Bosch.
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css