Die Weg

 

Wat is die nut van die lewe?

Wat kry die mens vir sy geswoeg, sy geswoeg in hierdie wêreld?” - Prediker 1:3 (2020 vertaling).

Hierdie vraag het mense deur die eeue besig gehou en ons hoor nog dikwels steeds dieselfde vraag: Wat is nou eintlik die doel van hierdie lewe?

Ons hoor dit ook van Job: Het die mens nie 'n stryd op die aarde nie?

Hierdie vraag is ook in kort die hoofgedagte in die boek Prediker. Die vraag wat die egte Israeliet veral besig hou is dit: watter nut, watter voordeel bring die arbeid, die arbeid van hande, denke en hart?

Die antwoord wat die skrywer op die vraag gee is baie droefgeestig. Telkens eindig elke oordenking maar weer: Alles is tevergeefs – alles is tydelik en kom tot niks. Ons kan sê dit is die lewensbeskouing van iemand wat teleurgesteld is in alles.

Maar dit word totaal anders as die lig uit die ewigheid daarop val. Ons sien dit veral in die Nuwe Testament! Die ewige lewe is dat hulle, die gelowiges, God sal ken en Jesus Christus wat Hy gestuur het (Joh 17:3).

As ons hierdie lewe in 'n opregte geloof tot Jesus Christus leef, dán eers verstaan ons die doel van hierdie lewe, en dit is om God te verheerlik. Die moeite en stryd van hierdie lewe werk alles ten goede mee vir dié wat God liefhet. Die moeite en verdriet is nie die gevolg van die blinde noodlot of toeval nie, maar alles het gewig, doel en waarde! Maar waartoe lei dit dan?

Die lewe neem jou deur lyding op 'n pelgrimsreis na die hoogtes van verblyding, deur die kruis na die kroon. Ná die pelgrimslied van trane volg die blye rus in die Vaderhuis. Dit is die sin, die doel van die lewe: dat die lewe ons sal vorm, sal louter en sal reinig van alle sondige aardse besmettings op ons reis na die Vaderhuis daarbo.

Ds FJZ Booysen in: Bybelse Dagboek onder redaksie van ds JGM Dreyer, dr B Gemser, dr JH Greyvenstein en dr HP Wolmarans (verwerk).

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css