Die Weg

 

Die sleutel tot sukses is om God te gehoorsaam

Ons lewe in 'n gejaagde wêreld. Daarby leef ons in 'n era van tegnologie en met al die media tot ons beskikking beleef ons 'n inligtingsontploffing. En te midde van die oorlading is dit die geestelike lewe wat die meeste skade ly. Baie mense glo dat hulle met alles moet bybly as hulle wil vorentoe kom in die lewe. Bybelse waarhede word bevraagteken, as uitgediend beskou en oorbodig verklaar. Baie Christene reken dat godsdiensbeoefening 'n lekker ontspannende breuk moet wees wat 'n bietjie nuwe moed inblaas, maar dit mag nie méér van die reeds oorlaaide mens vra nie.

Dawid dra egter aan Salomo die ou, beproefde sleutel tot sukses oor. Dit is dieselfde sleutel wat ook aan Josua gegee is toe hy die leierskap by Moses oorneem (Jos 1). Dit is naamlik dat die belangrikste kennis wat die mens ooit kan hê, is om die Here en sy wil te ken. En die belangrikste wat elke dag gedoen moet word, is om te leef volgens God se gebooie. Dan leef en werk mens met insig en goeie oordeel, doen jy voluit wat jou hand vind om te doen, leef jy doelgerig en positief vorentoe.

Salomo het aanvanklik hierdie boodskap goed gehoor en bid dan ook van God die regte insig af om sy wil te verstaan. Die sukses wat Salomo hierdeur behaal het, is legendaries. Tog, wanneer mens die verdere verloop van sy lewe lees, sien ons hoe Salomo ook maar afgedwaal het, en die uiteinde is dat die koninkryk kort na sy dood geskeur het.

In Prediker beskryf hy later al sy afwykings as 'n futiele gejaag na wind en keer hy weer terug na die wysheid wat hy by sy pa ontvang het, naamlik dat die dien van die Here die belangrikste is vir 'n suksesvolle lewe.

Leef met hierdie wysheid! Moenie dink jy kan slimmer wees as God en die wiel herontwerp nie, want niks werk beter as die wysheid wat van God kom nie Wie weet immers beter hoe sy skepsel die beste funksioneer as die Skepper self?

Ds HB Hattingh (Warmbad)**

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css