Die Weg

 

Die Vyeboom Bot

“En leer van die vyeboom hierdie gelykenis:  Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is".
--Matt 24: 32--

Leer van die vyeboom! Die bottende vyeboom is 'n teken van die spoedige koms van die somer.  “So weet julle ook, wanneer hierdie dinge gebeur,  dat dit naby is, voor die deur”.  So spreek die Seun van die mens van sy wederkoms. Hy het pas 'n reeks dinge opgenoem wat sy koms sal voorafgaan. Dié dinge is die bottende vye-boom. Die taal van die bottende vyeboom is dat dit nie altyd winter sal wees nie. Die somer staan voor die deur.

Hoekom hierdie gelykenis? Waarom nie 'n vyeboom, waarvan die blare verkleur  as teken van die herfs nie? Dit is immers die einde van die wêreld wat kom? Einde beteken dood. Is die winter dan nie 'n baie beter beeld as die somer om aan te dui dat die einde naby is nie? Die winter is koud en spel dood en verganklikheid. Die gras is verdor, die bome is blaarloos, die ysige winde sing hulle klaagsange. Die natuur is dood!

Maar nee, Hy gebruik die bottende vyeboom as beeld.

Wees bly en sing 'n lied daarby! Die lente is hier! Die vyeboom bot! Dit is die taal van die hart van die kerk wanneer die vyeboom bot. Dit weet Hy, die Koning van die kerk, baie goed. Hy weet dat swaar tye vir sy kerk kom. Hulle gaan die winter in. In die winter wag die natuur op die koms van die somer. So wag sy kerk op sy koms... en Hy kom nie om te verwoes en te vernietig nie. Hy kom om alles nuut te maak! Die winternag van ellende en dood, van sonde droefheid en worsteling teen doodsvyande, is dan vir ewig verby.

Leer van die vyeboom. Die lente is hier! Hy kom gou!

Ds. M. J. Booyens (Tel die sterre)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css