Die Weg

 

Wie is die werklike sterkes?

Sterk mense beïndruk ander. Of dit nou bultende spiere is of leierseienskappe of koersvastheid – waar daar krag is, het jy met iemand te doen wat respek afdwing. Daar is egter ook baie wat hulleself sterk voordoen, maar eintlik lafaards is. Groot manne (en vroue) wat maar klein hartjies het. Mense wat baie spog, maar gou handdoek ingooi.

Wie is dan die werklike sterkes en wie het mag? God se wysheidsboek sê: “Dit is die wyse man wat sterk is, die een wat kennis het, wat werklik mag het” (Spreuke 24:5).

Volgens die wysheidsboek is wysheid slegs te vind in ‘n lewende verhouding met God, want dis Hy wat wysheid gee. Jesus Christus is dié Wysheid. “Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing” (1 Korintiërs 1:30).

Praat ons dan van krag en mag, van vermoëns om in hierdie wêreld iets blywends te kan doen, bedoel ons geesteskrag. Krag wat nie uit die mens kom nie, maar van God. Die wyse besit geestelike krag. Hy soek altyd meer wysheid en is deur Christus tot alles in staat, omdat hy sy krag van Hom kry. Die wyse man besef dat wanneer Hy swak is, hy juis sterk is omdat hy dan met die krag wat Christus gee, optree.

Om sterk te kan wees, moet jy Christus ken en jou deur die Heilige Gees laat lei. Wanneer jy die woorde van Jesus ter harte neem en bewaar, is Hy in jou en jy in Hom. Dan groei jou wysheid, en so neem jou krag toe. Daardeur kan jy die sonde weerstaan, die Satan se versoekinge afweer. Die wyse kan deur sy geesteskrag in die wêreld uitstaan, leiding en hoop gee. Hy sien deur sy geestelike insigte tot oor die horison, omdat God hom lei.

Soek dan jou krag hierdie week in die Wysheid wat van God kom! Sy Naam is Jesus Christus! Deur gebed, Skrifstudie en leiding deur sy Gees groei jou geesteskrag.

Dr Callie Opperman - Deo Gloria Kuberbrief


 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css