Die Weg

 

Geloof - die anker in die onsienlike

Geloof is soms onverstaanbaar. Dit het met dinge te doen wat jy nie kan sien nie. Ook ons wat in 'n wêreld leef wat met drukkuns, TV-beelde en rekenaars alles sigbaar maak, moet glo (sonder om te sien). Daar is net een keuse: of jy deins terug en gaan verlore, of jy glo en leef.

Glo en leef? Ja, geloof gee sekerheid in tye van onsekerheid en gee oortuiging van daardie dinge wat ons nie kan sien nie. Geloof gee hoop in 'n dikwels hoop-lose wêreld. Daar is dinge wat hoop gee vir môre, soos my gesondheid, my inkomste, my aftreebeplanning, my huis en my huwelik. Tog gee dit geen volle sekerheid nie. Siekte kan toeslaan, of werkloosheid, of 'n verpligte vroeë aftreepakket, of... of; ... Daar is soveel onsekerhede in hierdie tipe van hoop

Die Christelike hoop staan egter vas, want dit is gevestig op God se verbondsbeloftes. Sy woord staan vas. Sy beloftes word uitgevoer. Hy gee hoop wat van buite hierdie wêreld kom. Die inhoud van sy beloftes trek saam in Jesus, die Seun van God, my Koning-Profeet-Priester. Ons het hierdie sekerheid omdat Hy Koning oor alles is. Met Hom kan ek elke dag moedig tegemoet gaan. Daar is hoop omdat sy profetiese woord die volle waarheid is. Ek kan altyd daarheen teruggaan vir 'n vaste anker. Hy beloof as Hoëpriester vryspraak van my sondeskuld en die heerlikheid van die hemel en 'n nuwe aarde.

Hiervan kan ek in die geloof seker wees. Ek kan oortuig wees daarvan, alhoewel ek dit nie kan sien nie. Geloof anker juis in die onsienlike - in God self.

Dr. WC Opperman (Windhoek-Suid)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css