Die Weg

 

Die Here bring dinge op jou pad

Ester 4:14 - As jy nóú swyg en daar kom van ‘n ander kant af uitkoms en redding vir die Jode, sal jy en jou familie omkom. Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het!"

Daar gebeur baie dinge in die wêreld en in ons lewens waarop ons nie altyd weet hoe om te reageer nie. In ons Skrifgedeelte verkeer die Jode in 'n gevaarlike situasie. Die Persiese koning het hom deur Haman, sy tweede in bevel, laat ompraat en omgekoop om 'n wet uit te vaardig dat die Jode teen die einde van daardie jaar doodgemaak moet word. Ester se oom Mordegai, stel haar daarvan in kennis. Ester se lewe is ook in gevaar, want sy is ook van Joodse afkoms.

Tog is daar 'n moontlike uitkomkans. Ester is koningin in Persië én het toegang tot die koning. Moontlik kan sy hom oorreed om sy mag te gebruik om sy vrou en haar volk te red. Daar is egter 'n risiko aan verbonde, iemand durf nie na die koning toe gaan as hy jou nie uitgenooi het nie. Dit kan jou dood beteken. Die koning het juis vir Ester 30 dae laas na hom toe genooi.

Haar oom laat weet vir haar dat sy die risiko moet loop. As sy nie die saak by die koning verander kry nie, gaan sy ook doodgemaak word soos die ander Jode. En as die Here die Jode op 'n ander manier red, sal hulle teen Ester draai. Sy moet nou die saak in die geloof aanpak as dat God die saak op haar pad gebring het. Is dit nie die doel waarom God haar laat koningin word het nie? Wil God haar nou gebruik om iets vir sy volk te doen? God werk nie deur opspraakwekkende magsgebruik nie, maar deur iemand op die regte tyd op die regte plek te plaas. So kon Ester haar skoonheid en posisie gebruik om die koning in sy besluitneming te beïnvloed. "Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het" (vs 14).

So kan die Here iets groots laat gebeur deur enige persoon. God beskik alles in ons lewens net ten beste, ook die dinge wat ons nie verstaan nie. Weet, die Here gebruik nie altyd die aansienlike mense om groot dinge te laat gebeur nie. Kyk maar na Jesus Christus. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad dat ons na Hom sou opsien nie. Maar deur sy verdienste aan die kruis verander God die hele wêreldgeskiedenis en gee Hy verlossing vir ons van die ewige dood en 'n lewe in ewige,heerlikheid. Staan dan altyd jou plek vol op die lewenspad. God wil jou tot sy eer gebruik. 

Ds LM Kruger (Almanak van die GKSA)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css