Die Weg

 

Lewe uit die geloof

Lukas 17:5 - Toe het die apostels aan die Here gesê: Gee ons meer geloof.

Om te lewe uit die geloof is om te lewe uit die krag van God. Dit is maklik om te sê, maar moeilik om te begryp. Lees maar 'n keer die begin van Lukas 17. Die Here Jesus hou daar vir Sy dissipels die eise vir ware Christelike dissipelskap voor. Moenie 'n struikelblok wees nie! Dit wil sê: moenie 'n ander prikkel om sonde te doen nie. En verder: vergewe mekaar. As dit nodig is, selfs sewe maal op één dag.

Die dissipels het baie goed begryp dat hierdie dinge ver bo hulle kragte gaan. Daarom vra hulle Jesus: “Here, gee ons meer geloof” - 'n gebed wat later deur baie ander oorgeneem is. Miskien het jy dit ook al gebid - in die aand na 'n besonder moeilike dag.

Tog moet ons onsself afvra: is hierdie gebed wel reg?

Die dissipels vra Jesus om meer geloof - dus om 'n groter hoeveelheid geloof. Hulle het gedink Jesus verwag van hulle 'n soort geestelike kragtoer. En nou is hulle kragte nie toereikend nie; dus het hulle meer krag nodig. Soos 'n swaargewigkampioen wat 'n bepaalde hoeveelheid spierkrag nodig het, of 'n fietsryer wat in 'n lang wedren 'n bepaalde dosis uithouvermoë nodig het, so begeer die dissipels 'n groter dosis geloof vir die kragtoer wat geestelik van hulle geverg word.

Uit hulle gebed blyk dit dat hulle verwag hulle moet dit alles self doen; dat alles afhang van hul krag, van hul uithouvermoë. Maar dis met die geloof heeltemal anders as met enige menslike kragprestasie. Geloof is nie: dis my prestasie nie! Geloof is: staan in God se krag. Dis om alles alleen van die Here te verwag. Ons weet dat ons self magteloos is. Maar God gee krag. Ons kan put uit die bron van Sy almag.

Om uit die geloof te lewe, beteken om te lewe uit God se Vaderhand. Ons moet nie bid: “Gee ons meer geloof” nie. Die nadruk mag nie op iets van ons val nie. Ons moet bid, ook vanaand, na 'n moeilike, spannende dag: “Here, leer my om uit die geloof te lewe. Leer my om uit U krag te lewe. Dan kan ek doen wat ek ~ volgens U wil - moet doen. Alleen deur U, die krag van ons krag.”

Dr FE Hoekstra (Dagfinale)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css