Die Weg

 

Laat die Gees jou vervul

Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul. Efesiërs 5:18

As uitverkore kind van God is dit jou roeping om tot sy lof en eer te lewe. Hy het jou immers in Christus uitverkies en jou verlos. Hy het ook sy Gees aan jou gegee om jou te verseker dat jy sy kind en erfgenaam is en jou toe te rus om vir Hom te lewe - volkome heilig en volgens sy wil, soos 'n kind van die lig.

Dis egter alleen moontlik as jy volkome onder die heerskappy van die Heilige Gees lewe, en daarom keur God losbandigheid af en sê (vs 18): "Nee, laat die Gees julle vervul..." Jy moet jou aan die Gees oorgee en jou volkome onder sy leiding stel. Alleen as jy Hom in beheer van jou lewe plaas, sal jy met volkome toewyding tot lof en eer van God kan lewe. Dit is immers die Gees wat jou lewend en nuut maak en jou na die beeld van God herskep. Hy leer en lei jou, sodat jy kan weet wat vir God aanneemlik is en wat Hy wil hê jy moet doen.

As jy jou deur Hom laat lei, sal jy nie deur die goddelose wêreld meegesleur word nie, maar as 'n kind van die lig in die voetspore van ons Here Jesus Christus wandel. Jy sal nie meer nodig hê om jou sorge te verdrink en gedurig te bly soek na goedkoop plesier nie. Die Gees sal jou met ware vreugde en dankbaarheid vul. Jy sal die Here van harte loof en prys en jou hele lewe sal 'n dank- en loflied tot sy eer word.

Ds AJ Myburgh

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css