Die Weg

 

As die politiek oorneem

"Die berig dat die Arameërs reeds in die Israelitiese gebied in Efraim kamp opgeslaan het, het vir Agas, die koning uit die geslag van Dawid, in Jerusalem bereik, en hy en sy volk het baie bang geword. Hulle het gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind". Jesaja 7:2

"Die Arameërs en die Efraimiete onder leiding van die seun van Remalja beplan jou ondergang. Hulle het vir mekaar gesê: Kom ons val Juda aan en oorrompel hom. Dan verdeel ons die land onder ons en ons maak die seun van Tabeal koning van Juda. Maar so sê Ek, die Here jou God: Dit sal nie plaasvind nie, dit sal nie gebeur nie, " Jesaja 7:5-7

Dit was ‘n baie donker tyd vir Agas en Jerusalem. Die Assiriese ryk met koning Tiglat-Piléser het soos ‘n stralende môrester aan die hemel verskyn.  Die een land na die ander word verower, koning na koning moes oorgee, en ook die een “god” na die ander word onttroon. Lees maar die woordepraal in Jesaja 36:19-20:

“Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar die gode van Sefarváim? En het hulle miskien Samaría gered uit my hand? Wie is daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land gered het uit my hand, dat die HERE Jerusalem uit my hand sou red?”  (OAV)

So praat die wêreldveroweraar. En nou het Resin, die koning van Aram, en Peka, die koning van Israel, met mekaar ‘n verbond gesluit om weerstand te bied teen hierdie aggressie. Hulle wil koning Agas van Juda ook hierby betrek. Maar die koning van Juda weier. Hy voer pro-Assiriese politiek. Toe besluit die twee konings om Jerusalem te verower, Agas te dood en die seun van Tabeal op die troon van Dawid te plaas.

Met hierdie voorneme het hulle egter geraak aan die verbond van die Here met Dawid sy kneg – 2 Samuel  7:13:

"Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan".  (Sien ook Psalm 89).

Daarom gryp die Here in ter wille van Dawid. Hy stuur Jesaja met sy seun,  Sjear Ja-sjub, (“Oorblyfsel keer terug”) na Agas met die boodskap: “Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie.”  Agas moet homself net rustig hou, niks vrees nie en niks doen nie.

Maar Agas vertrou nie op die Here nie. As alle lande en hulle “gode” reeds oorwin is, sal dit dan nie met die God van Israel dieselfde gaan nie? Agas wil daarom ook niks daarvan hoor dat hy net op die Here moes vertrou nie. Hy wil ook geen teken ontvang om die Here se Woord te bevestig nie. Al hierdie lande se “gode” het in die stof gebyt voor die “gode” van Assirië. Hoe sal dit dan anders gaan met die God van Israel? Op hierdie oomblik in die geskiedenis van die Godsryk, wanneer Juda vir die eerste keer deur ‘n wêreldmag bedreig word, faal Agas, die teokratiese koning, totaal. Want hy kon en hy mog by hierdie bedreiging tot God gaan, en soos God se dienaar sê:  “U is my Vader, my God en die rots van my heil!” – Psalm 89. Hy moes weet dat die Here Dawid se troon sou beveilig. Maar Agas het sy eie idees en planne. Agas, die teokratiese koning, rig homself tot Tiglat-Piléser en sê aan hom: “Ek is u dienaar en u seun; kom op en verlos my uit die hand van die koning van Aram en uit die hand van die koning van Israel wat teen my optree” – 2 Konings 16.

Dit is geen wonder dat die duisternis oor Jerusalem toesak nie. Juda het geen voorbidder meer nie. Juda het geen herder meer om die skape te beveilig nie. Die politiek het oorgeneem.

(Teokrasie: ‘n regering waar God die hoof van is)

Uit: E.T van den Born (Gedenkt en Gelooft)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css