Die Weg

 

Twee vlakke van lewe

“Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê”  Joh. 10 : 10.

Almal verstaan die onderskeid tussen ‘n lewe wat swak en sieklik is, en een wat oorvloedige lewenskrag het. Paulus praat van die Christelike lewe van die Korintiërs as nie geestelik nie, maar vleeslik. Hulle is soos klein kindertjies in Christus wat nie in staat is om vaste spyse te verteer nie. Hulle kan dus nie die dieper waarhede van die evangelie begryp nie (1 Kor. 3 en Heb. 5). Daar is Christene (die meerderheid) wat nooit verder kom as die eerste beginsels nie. Hulle is swaar van oor en bly vleeslike Christene. Daar is egter ook andere (die minderheid) wat die oorvloedige rykdom van genade in hul lewens weerspieël.

Ons vind hierdie verskil dwarsdeur die geskiedenis van die Kerk. Ook vandag is die getal wat in volle oorgawe vir God wil lewe, baie klein. Deurdat hulle geestelik gesind is, beywer hulle hul vir die oorvloedige lewe wat daar in Christus is. Hulle getuig van die heerlikheid van Christus wat “vol van genade en waarheid” is:  “En uit sy volheid het ons almal ontvang, ja, genade op genade.”  (Joh. 1 : 16).

Die oogmerk van die uitdraer van God se Woord behoort te wees om die volheid van God se genade in Jesus só voor te hou, dat Christene sal skaam word vir die armoede van hul geestelike lewe. Dat dit hulle sal aanmoedig om te glo dat die “lewe en oorvloed” in die volheid van die Gees, vir hulle bedoel is.

Leser, vra jouself af of jy so 'n oorvloedige lewe lei as wat Jesus gekom het om te gee. Kom dit te voorskyn in jou liefde vir die Heiland en in die oorvloed van vrug wat jy tot eer van God dra? So nie, bid dat God jou krag mag gee om te glo dat Hy mag het om alle genade oor jou oorvloedig te laat wees, sodat jy “altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Kor. 9 : 8). Laat Jesus vir jou dierbaar wees, en hou daaglikse gemeenskap met Hom. Hy sal jou deur sy Heilige Gees leer om Hom te eer met 'n oorvloedige lewe.

Dr Andrew Murray

_______________________________________________

Lees gerus ook die artikel deur Hentie Krüger Is God Goed? onder Artikels op die webwerf. Hier is 'n kort inleiding:

Asaf kon nie verstaan waarom dit goed gaan met die goddeloses en sleg met die regverdiges nie. Maar nadat hy besef het dat geregtigheid wél sal seëvier‚ het hy God se wysheid erken. Hierdie tema sê vir ons dat dit een van die wysheidspsalms is. Daar is twee opvallende temas in Psalm 73: (1) die goddeloses is voorspoedig en dit laat gelowiges wonder waarom hulle nog die moeite doen om reg te leef‚ en (2) die goddeloses se besittings is só aanloklik‚ dat die gelowiges in die versoeking is om te wens dat hulle plekke kon ruil. Die twee temas eindig egter albei op ’n verrassende noot:.

Lees hier verder

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css