Die Weg

 

Oppervlakkige en egte geluk

Nou laat U, Here, U dienskneg gaan in vrede volgens U woord, omdat my oë U heil gesien het. Luk. 2 : 29, 30.

Want ek verlustig my in die wet van die Here na die innerlike mens. Rom. 7 : 22.

'n Mens kan geluk soek uit wanhoop. Die meeste geluksoekery is 'n roes, 'n vlug vir die werklikheid. Die vermaaklikheidslewe wat die mens uitnooi om “sy sorge te vergeet” is grotendeels 'n demonstrasie van die onmag van die mens om die ware geluk te soek en te vind. Dikwels word hierdie “geluk” deur die vrees vir die dood gestimuleer. Die soek na geluk moet die waarheid: “Môre sterf ons” verberg.

Daar is egter ook 'n egte geluk. Oppervlakkige geluk word gebore uit die wanhoopstemming: “Ek moet sterwe.” Egte geluk ontstaan uit die wete: “Ek kán sterwe.” Iemand wat werklik kan sterwe, sê daardeur: My lewe is voltooi, volbring, geslaag. Alles wat te bereik was, het ek bereik. Die mens wat 'n geslaagde lewe gelei het, kan sterwe. So was dit ook met Simeon. Hy bid om nou te sterwe. Nie omdat hy wanhopig is nie, maar juis omdat alles waarop hy in hierdie lewe gehoop het, vervul is. Sy lewe is so vol dat hy begin dig en sing. Hy is so gelukkig dat hy voel hy sal sy geluk net in die ewigheid ten volle kan geniet. Hierdie lewe bied te min ruimte en moontlikhede. Hy is so gelukkig dat sy geluk slegs by God tot sy reg sal kan kom. Selfs die tempel is te klein, te eng, te benoud. “Nou laat U, Here, U dienskneg gaan in vrede volgens U woord, omdat my oë U heil gesien het.” En dié heil is die Kindjie in sy arms. In Hom is alle geluk opgesluit. Christus is immers die Saligmaker, en salig beteken waarlik gelukkig.

Dit is pragtig om te sien hoe iemand uit die gewone lewe soos Simeon, alles deur God se beloftes op één punt saamgetrek sien. Hy weet wat die lewe bied, maar hy weet veral wat God in Christus bied, en dit is so onbegrens groot dat alle dinge in die niet verdwyn.

Dit is werklik moontlik dat 'n mens kan begeer om te sterwe uit louter geluk, omdat hierdie lewe nie voldoende ruimte en moontlikhede bied om die geluk te geniet nie. Eers die nuwe aarde sal genoeg ruimte en geleentheid bied vir die volle genot van die saligheid.

Tog is dit nie verfynde godsdienstige egoïsme nie. Wie so 'n oordeel vel, herken glad nie die toonhoogte waarop Simeon sy lied sing nie. Daarom kan 'n mens ook in hierdie lewe waarlik gelukkig wees. Simeon bid om heen te gaan, maar Paulus verlustig hom hier en nou in die wet van God. Omdat die liefde die vervulling van die wet is, en ons in Jesus die liefde leer ken het, bedoel Simeon (met Jesus) en Paulus (met die wet) presies dieselfde. Die ware geluk lê dan nie net hierdie lewe nie, maar ook in hierdie lewe, nl. wanneer ons deur die liefde tot God en die naaste die wet van God hou.

J Overduin (Venster op die lewe)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css