Die Weg

 

Neem jou in ag dat jy die Here jou God nie vergeet nie

“neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie”.  Deut: 6:12

Is dit wel moontlik dat ons die Here ons God kan vergeet? 

Ja, dit is moontlik. Selfs die volk Israel vir wie Hy so kort gelede nog sigbaar uit Egipte uitgelei het, het Hom vergeet.  Hoeveel keer het ons dit nie ook al gedoen nie? Dit is mos net as ons werklik in nood verkeer dat ons Hom skielik onthou en na Hom roep.

Israel is met hierdie bevel  streng aangespreek. Maar hoe dikwels het hierdie volk nie sy God vergeet nie?  Wat nog meer is, is dat die Here Israel gebied het om hulle kinders ook hieraan te herinner en dit by hulle in te skerp:   “en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deut:6:7).

Ons lees in 1 Samuel 4:3-4 hierdie woorde:  “Terwyl die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Israel: Waarom het die HERE ons vandag voor die Filistyne verslaan? Laat ons die verbondsark van die HERE uit Silo na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand van ons vyande. Daarop het die manskappe na Silo gestuur, en hulle het die verbondsark van die HERE van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan gaan haal”.  Israel was in groot nood. Die Filistyne het hulle verslaan. Nou dink hulle skielik aan die God van Israel. Maar dit was te laat. In hulle daaglikse handel en wandel het hulle nooit die Here in ag geneem nie. Nou, in die tyd van nood, dink hulle skielik aan Hom. Die spreekwoordelike laaste grashalm waarna hulle gryp. Maar hulle het reeds die gebod van die Here oortree en hulle verdien die straf van God.  Die vrou van Pínehas noem haar seuntjie Ikabod -  “Weggevoer is die eer uit Israel” (1 Sam 4:21).

Neem jou dan in ag”  is beide ‘n waarskuwing en ‘n liefdevolle herinnering.  Die Here wil hê dat ons vir geen oomblik sonder Hom moet wees nie. Hy wil in ‘n ewigdurende gemeenskap met ons lewe. Hy wil ons Vader wees en ons versorg.  Daarom het Jesus Christus ook in die vlees na ons gekom om ‘n ewige Verbond met ons op te stel, deur wie God die Vader  ons met Hom versoen het.  Hy het self die Godverlatenheid aan die kruis ondervind. Hy is deur God verlaat sodat ons nooit deur God verlaat sou word nie.  Sy laaste kruiswoord was “tetelestai - dit is volbring”,  toe Hy die helse pyn van Godverlatenheid deurleef het.  Dit is nou nie meer "ikabod" nie, maar "tetelestai". Dit is volbring, God is ewig met ons. “Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie” (Open  3:8). Deur die werking van die Heilige Gees wil Hy in ons woon en werk. Ons het dus ‘n verpligting, as ons ons as Sy kinders beskou, om daagliks volgens hierdie Verbond te leef en Hom nooit te vergeet nie.

Om Hom nie te vergeet nie, beteken dat ons voortdurend bewus moet wees van Sy nabyheid. Dit is nie net ‘n kort gebedjie aan die einde van die dag nie, dit is elke oomblik, elke uur.  En belangrik: ons moet dit ook vir ons kinders inskerp.

As ek Hom nie vergeet nie, dan sal ek: twee keer dink voor ek kwaad word, twee keer dink voordat ek iemand beledig, twee keer dink voordat ek iets neem wat my nie toekom nie, twee keer dink voordat ek die wêreld wil navolg, twee keer dink voordat ek ........... Maar ek sal ook Sy nabyheid ervaar in tyd van trauma, wanneer ek belangrike besluite moet neem, óf my in ‘n vyandige situasie bevind.

Sal ons dan die Here onse God steeds bly vergeet? Hoe dikwels het ons nie reeds gely as gevolg van hierdie sonde nie.  Laat ons dan saam met Asaf uitroep: “dit is vir my goed om naby God te wees” (Ps 73).

Jan Brink

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css