Die Weg

 

Die mens sonder hoop

Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan. Spr. 10 : 28.

Sonder hoop en sonder God in die wêreld. Ef. 2 : 12.

Hoe sou 'n mens wat sonder hoop is en nie meer één enkele verwagting het nie, nog 'n dag langer kan leef? Hoop gee lewe, want lewe is om telkens weer die toekoms ingelok te word. Ons toekoms bepaal ons optrede van vandag. As die toekoms geen verwagting meer inhou nie, het 'n mens nie die moed om 'n tree verder te loop nie. Iemand wat hoop verloor, het moed verloor, en wie moed verloor het, het alles verloor. Daar bereik jy die grens waar alles ophou. Daar pleeg 'n mens selfmoord, waar jy geen enkele verwagting meer het nie.

Die vreeslikste situasie is egter wanneer jy nog van die lewe, nog van die dood, enige verwagting het. In die Heilige Skrif gaan dit nie net oor die hoop vir die onmiddellike toekoms nie, maar ook vir die verste toekoms. Net God is magtig om sowel vir môre as vir die laaste dag iets te bied - maar dan ook méér as iets - ja, alles. By elke doodloopstraat waar mens en wêreld, lewe en dood, niks meer aan te bied het nie, staan God met alles om te gee. Daarom is dit vreeslik as 'n mens aan die grense van sy lewe kom en God in Christus nie ken nie. Die god-lose, die mens sonder God, het geen hoop nie, of hy het ydele hoop; maar daarop volg die ontnugtering. Aanstons val alles weg - en waarop moet hy dan hoop? Aanstons val naam, eer, posisie en gesondheid weg - ja, ook die waan dat dood maar net “dood” is en niks meer nie. Daarom sal die hoop van die goddelose volgens die Spreuke-digter vergaan.

Ook Paulus herinner die bekeerde heidene aan hul hopelose toestand toe hulle nog sonder God geleef het. Om sonder God te lewe, beteken om teen wil en dank vir jou eie toekoms verantwoordelik te wees. Egte toekoms, hoop en verwagting kry 'n mens eers as God jou lewe in Sy hande geneem het. Die heidene en die ongelowiges ken nie God se Verbondsbeloftes nie. Die rykdom van Israel was juis dat God hulle aan alle kante met Sy beloftes beskerm het, sodat hulle in die grenssituasies van hul lewe nie in 'n duisternis gestort het nie, maar in die arms van hulle troue Here. Israel het, helaas, in die geheel gesien, nie hierdie beloftes deur 'n ware geloof aanvaar nie.

Die verkondiging van God se Woord en die bediening van die sakramente is die geweldigste gebeure denkbaar omdat Hy ons daarin met Sy liefde-arms omvou. Daarom is die gelowige nie onbeskermd nie, maar geborge. Jesus Christus is die Eerste en die Laaste. Hy omring ons van agter en van voor.

Ds J Overduin (Venster op die lewe)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css