Die Weg

 

U God is my God

Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Rut 1:16 (OAV)

Om God te dien”, het iemand gesê, “is 'n heel persoonlike saak.”

Ja, dit is! Jy kan nie namens iemand anders glo nie. Maar elkeen wat in Christus glo, sal nie verlore gaan nie, en sal die ewige lewe hê (Joh. 3:16).

Dit stel aan elkeen van ons die eis om persoonlik met ons hele hart na Jesus te gaan en ons aan Hom te gee.

Om dit te kan doen, moet ons ons losmaak, ons soms loswring van allerlei persoonlike omstandighede waarmee ons verbind en verwikkeld is. Ons moet ook leer om verder as onsself te kyk en om ons saligheid buite onsself en buite ons eie dinge in Christus te soek: om die oog gevestig te hou alleen op Jesus Christus, ons enigste Veriosser en Heiland. Want ons weet dat dinge verkeerd loop as ons op onsself of op ander vertrou (al is hulle ook hoé vroom).

Maar nou kan ons so maklik die groot fout begaan om te dink dat ons in die diens van God niks met ander mense te doen het nie. Ons sê: “Dis net 'n saak tussen my en die Here.” Onthou tog dat jy 'n deel is van die volk van God.

Jesus Christus maak almal wat in Hom glo, weer tot één volk: die nuwe volk, wat vir ewig leef! En as ons God kies, moet ons ook Sy volk kies. Dan moet ons in die ry van God se kinders gaan staan.

Rut het dit verstaan en beleef. Toe sy die Moabitiese vrou, saam met Naomi na Kanaän getrek het, wou sy nie na Moab teruggaan nie, selfs al sou sy in Kanaän kinderloos moes sterf. In hartstogtelike geloof het sy gekies: “U volk is my volk, U God is my God!

God se volk, God se kerk is nie volmaak of sonder foute nie - maar ons mag ons nie daarom afskei van die kerk nie. Ons is en bly 'n deel daarvan. 

Ds H.J Spier (Dagfinale)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css