Die Weg

 

Om die wedloop te voltooi

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God. Op die dag dat Hy weer kom, sal die Here, die regverdige Regter, dit vir my gee, en nie net vir my nie, maar ook vir almal wat met verlange uitsien na sy koms.. 2 Tim 4:7-8 (OAV)

Kan ons werklik begeer om so rustig soos Paulus die naderende dood tegemoet te tree? En wat 'n dood wag nie op hom nie! 'n Marteldood. En tog geen vrees, geen paniek, geen selfbejammering nie. Net maar besig met wat sy hele lewe in beslag geneem het: die uitdra van die evangelie tot aan die eindes van die aarde. Sy laaste bevele en vermaninge aan Timotheüs is om tog seker te maak dat die evangelie van Christus en Sy genade altyd suiwer verkondig word. Ook al roep dit verset op, ja, ook al wil mense net dít hoor wat hulle graag wíl hoor. En dan volg ten slotte 'n enkele woord oor homself. “Ek word alreeds as 'n drankoffer uitgegiet, en die tyd van my heengaan is naby”. (vs 6)

In dieselfde styl waarin Paulus geleef het, gaan hy ook sterf. Dit was sy vreugde om sy lewe op te offer vir Christus en Sy evangelie. Daarom sien hy ook sy sterwe as 'n offer. Hy sien sy naderende dood nie as 'n onafwendbare noodlot waarin hy maar berus omdat hy tog niks daaraan kan doen nie. Hy sien dit as sy laaste offer vir Christus. Hy stort nie deur sy dood die groot onbekende in nie, maar gee homself oor in Christus se hande.

En as hy dan sy lewe in oënskou neem, is dit waarlik geen goedkoop self-ingenomenheid en selfoorskatting nie. Wat sou hy nie alles kon opnoem en op die kredietkant kon skryf as hy wou nie! Maar vir hom is die allerbelangrikste dat sy lewe 'n stryd vir die ware geloof was en dat hy die geloof behou het.

As ons oor ons eie lewe allerlei belangrike dinge sou kon sê op sosiale, kulturele, wetenskaplike, nasionale of kerklike gebied, maar nie sou kon sê dat hierdie dinge in die geloof bereik is nie, was ons lewe vir God tog nog één groot mislukking.

Ek het die goeie stryd gestry”. Goed, omdat hy vir Jesus gestry het. “Ek het die wedloop voleindig”. En nou wag hy met vertroue op die regverdige beoordelaar wat die krans van oorwinning sal oorhandig. Die aard van die wedloop was 'n geloofstryd.

Dit gaan daarom dat ons in alle omstandighede die geloof behou. Want dit beteken dat ons aan Jesus Christus bly vashou en uiteindelik die oorwinningskroon ontvang. Dit word vir Paulus 'n grootse visioen waarin hy nie net homself nie, maar almal wat na die wederkoms van Jesus uitgesien het, bekroon sien deur die regverdige Regter.

Eind goed, alles goed. Wie met die geestelike wapenrusting veg, sal nie populêr by die massa wees nie. Maar dit is bysaak. Ons moet ons laat beïnvloed deur die einddoel, eerder as deur die oordeel van mense, wat partykeer toejuig en dan weer veroordeel.

Ds J Overduin (Venster op die lewe)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css