Die Weg

 

Groot take begin by gebed

Die verhaal van Nehemia seun van Gakalja. Dit was in die maand Kislef, die twintigste jaar. Ek was in die vestingstad Susan. Ganani, een van my medeamptenare, het daar aangekom uit Juda, hy en ‘n paar ander manne. Ek het by hulle navraag gedoen oor die Judeërs wat uit die ballingskap vrygelaat is en teruggegaan het, en oor Jerusalem, en hulle het vir my gesê: “Die ballinge wat teruggegaan het, beleef daar in die provinsie Juda groot ellende en smaad. Die muur van Jerusalem lê om, en die stadspoorte is verbrand.” By die aanhoor van dié woorde het ek gaan sit en gehuil en dae lank getreur. Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid. Nehemia 1: 1-4

Waar begin jy wanneer 'n byna onmoontlike taak skielik jou verantwoordelikheid word? Jy begin gewoonlik deur visies, missies en doelwitte op te stel en keerdatums te bepaal. So gaan dit in die kerk sowel as in die sekulêre wêreld. In Nehemia wys die Here ons op 'n ander begin en 'n besonder geseënde afloop.

Nehemia, skinker aan koning Artasasta se paleis, hoor van groot ellende en hartseer vir die teruggekeerde ballinge: “Die mure van die stad lê om en die stadspoorte is verbrand”. ‘n Hartseer berig. Jerusalem was 'n onveilige, oop stad en die prooi van die vyandige heidene. Nehemia die Godsman, bekwame leier en slim strateeg, is die geroepe instrument in God se hand om die stadsmure en godsdiens in Jerusalem weer op te bou.

Maar die Godsman het nie sommer halsoorkop na Jerusalem gegaan, wild en wakker georganiseer en misluk nie. Nee, inteendeel: “Ek het gevas en tot die God van die hemel gebid”. Dis die plek waar ons ook moet begin met ons beplanning: op ons knieë, deur vas en gebed. Vas om te kan fokus op God en sy wil.

Ook die Here Jesus toon ons die pad van eers bid en dan werk. Hy was die Gestuurde om meer as stukkende stadsmure te herstel, die Herskepper van die in-sonde-gevalle skepping. Biddende gehoorsaamheid aan sy Vader was die pad na verlossing.

Het jy stukkende mure om te herstel? Het die geestelike vyande lustig toegang tot lewens van medegelowiges? Treur jy daaroor?

Wil jy iets daaraan doen? Begin by vas en gebed. Moenie halsoorkop aan die werk spring nie.

(Nr 1 in ‘n reeks van 3 wat saam 'n groter geheel vorm)

Dr Callie Opperman

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css