Die Weg

 

Hou aan bou, al is daar teenstand

Hulle het saamgesweer om Jerusalem te kom aanval en verwarring te stig. Nehemia 4:8

Die Here het die heropbou van die stadsmure geseën. Daar was spanwerk onder 'n bekwame leier. Maar Sanballat het woedend teenstand begin bied. Eers spot hy: "'n Jakkals sal die muur wat julle bou, omspring". Die Judeërs het besef dat hulle min krag het om die puin in mure te omskep, en het byna moed verloor.

Maar Nehemia laat hulle met gebed antwoord: "Hoor dit ons God! Ons word openlik bespotlik gemaak!" (4:4). Hulle het met toewyding voortgebou en by die halfpadmerk was hulle hart weer in hulle werk.

Toe wou die vyand soos terroriste tussen die bouers insypel en hulle doodmaak. Deur sy toegewyde medebouers as wagte te gebruik, verydel Nehemia die vyande se planne. Hulle is eers aangevuur met die kragtige boodskap: "Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise" (4:14).

Hierdie woorde maak die gedagtes nuut en positief en motiveer die werkers vir die saak van die Here. Die durf en daadkrag waarmee die Judeërs gereageer het, is vir ons 'n aanmoediging.

Die volk het fisies weerstand begin bied. Daar is wag gestaan en met die troffel in die een hand en 'n swaard in die ander gewerk. Dag en nag was hulle paraat teen die vyand.

Só het die Here die vyand se planne deur gebed, deur positiewe bemoediging, deur wyse leiding en deur daadwerklike optrede verydel.

Moenie sommer tou opgooi wanneer daar teenstand is nie! Jy kan saam met die Here en jou medegelowiges stry en oorwin.

(Nr 3 in ‘n reeks van 3 wat saam 'n groter geheel vorm)

Dr Callie Opperman

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css