Die Weg

 

Dit weet ek ......

Toe sê die priester: "Die swaard van Góliat, die Filistyn, wat u in die dal van die terpentynboom verslaan het, hier is dit in ‘n mantel toegedraai, agter die skouerkleed; as u dit vir u wil neem, neem dit, want behalwe dit is hier geen ander nie". Toe sê Dawid: "Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my". 1 Samuel 21:9

Dan sal my vyande agteruitwyk op die dag as ek roep; dit weet ek dat God aan my kant is. Ps 56:10

Dit weet ek dat God aan my kant is,” roep Dawid uit in Psalm 56. Dit was benoude dae vir Dawid. Hy moes vlug voor 'n wraaksugtige Saul. Hy word soos wild rondgejaag.

Hy het die breë swaard van Goliat van die priester Abimeleg gekry. Met 'n kennersoog het Dawid die swaard bekyk, gevoel hoe skerp hy is. Met so 'n swaard in die hand kan 'n mens 'n gevoel van veiligheid hê!

Daar is nie nog so een nie,” prys Dawid die wapen. Hy het blykbaar heeltemal vergeet hoe daardie swaard eenmaal die onderspit gedelf het teen 'n nietige klip, geslinger met die vaste hand van die geloof. Daar gaan Dawid nou - met Goliat se swaard.

Maar sonder God!

Hy staan nie meer in die krag van die Here nie. Hy gaan nou voort in eie krag.

Jy weet hoe dit is, nie waar nie? Jy het ook al vertrou op jou eie vermoë - op jou helder verstand of op jou sterk arms, op die mag van jou pa se rykdom of op sy invloed, om jou te bring waar jy graag wil wees.

En op daardie manier kom jy dan miskien wel daar.

Maar dit kan ook gebeur dat jy nie daar kom nie. 'n Mens kan selfs wens dat jy daar net so bedroë mee moet uitkom as Dawid met sy reuseswaard. Dan leer jy miskien ook om jou hulp alleen by God te soek! Jy is alleen dan sterk as jy weet dat God met jou is.

Wat Dawid eintlik in Ps. 56:10 sê is: “Dit weet ek, dat ek 'n God het”. Hy sê nie: “Dit weet ek, daar is 'n God” nie. Selfs nie: “dat daar een God is nie”. Dit weet selfs die duiwels, en hulle sidder. Maar daar staan in werklikheid: ”dat ek 'n God het”. Dit is geloofstaal. Dit beteken vir jou iets; dit beteken vir jou alles.

In ons dag, wanneer alle sekerheid wankel, wanneer jy op niks meer kan bou nie, moet dit meer as ooit die één sekerheid in JOU lewe wees: “Ek het 'n God!” As God vir my is, wie sal teen my wees?

Dr FE Hoekstra (Dagfinale)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css