Die Weg

 

Op die wipplank van die lewe

"o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes nie….
Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!
"  Ps 27: 13-14

'n Mens se gemoedstemminge kan darem vinnig verander. Die één oomblik staan jy op die bergspits - die volgende oomblik sit jy onder in die put. Nou juig jy hemelhoog, netnou is jy tot die dood toe bedroef. Op en af soos op 'n wipplank. Hoogtepunte en laagtepunte volg so vinnig op mekaar dat dit 'n mens duiselig maak. Soms vra jy jouself in moedeloosheid af: “Is ek wel 'n gelowige? Waar is my vertroue dan, my rus, my sekerheid?” As 'n mens aan 'n gelowige dink, stel jy jou iets voor soos 'n standbeeld van 'n ruiter: altyd fier in die saal, hoog en onbeweeglik bo die vlak van die gewone mense.

Maar die Bybel teken vir ons die gelowige anders. Om mee te begin, hulle word geteken as mense van vlees en bloed. En mense wat dikwels moeilikheid met dié vlees en bloed het. Mense wat bang is vir allerlei vyande rondom hulle - en wat nog die bangste vir hulself is. Lees Psalm 27 met volle aandag. Hoeveel wisseling van stemming is daar nie!

Ons sien daar 'n mens in angs en nood. Sy teëstanders is baie, en hulle is sterk. Maar - so praat hy homself moed in - ek hoef tog nie bang te wees nie. Die Here is mos my lig en my heil - my onneembare vesting. En tog, en tog . . . o onstuimige hart, waar vind jy rus en die nodige moed? Hy kan hom nog voor die mense goed voordoen, al kos dit moeite. Maar as hy voor God  se aangesig te staan kom, dan breek die storm los. Dan kan hy dit nie meer hou nie. Dan kan hy hom nie meer bedwing nie. Dan doen hy hom nie meer voor nie . .. Soos 'n klein kindjie wat baie benoud is, soek hy skuiling, wegkruipplek by God. Dit alleen troos, help, maak rustig. As Hy dit nie sou hê nie... “As ek nie geglo het nie ...”

Voel dit vir jou of alle vaste grond onder jou weggly? Dan is dit nie genoeg om net te wéét dat God so sterk is en tog kan help nie. Jy moet vlug na die Sterke God. Jy moet Sy aangesig soek. Op jou knieë. Dan sal jou laaste woorde ook 'n belydenis wees wat met huiwering en met hunkering gevul is: “As ek nie geglo het nie . . . Wag op die Here. Wees sterk en laat jou hart sterk wees.”

Dr FE Hoekstra (Dagfinale)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css