Die Weg

 

Eiewillige gehoorsaamheid

dat die HERE u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen.”  Jeremia 42:3 (OAV).

Ons ontmoet Jóhanan in een van die mees bedrukte tye in die geskiedenis van Juda. Jerusalem was verwoes en die bevolking verstrooi. ‘n Klein klompie mense het egter agtergebly, maar voel hulle allermins nog veilig in Jerusalem. Gedalja, wat deur die Chaldeërs oor die stede van Juda aangestel is, is vermoor. Hoewel Jóhanan en sy mense niks daarmee te doen gehad het nie, het hulle tog die wraak van Babel gevrees. 

Ons vind hierdie ontheemdes nou in ‘n herberg buite Bethlehem op hul vlug na Egipte. Jóhanan tree op as die leier van hierdie groepie mense. Dit wil voorkom asof hy sy werk goed doen, want hy wil in hierdie kritieke omstandighede die Here ken in al sy weë. Hy vra dus vir Jeremia om as voorbidder op te tree, “dat die HERE u God ons bekend mag maak die pad wat ons moet trek, en die saak wat ons moet doen”.  Op die oog af lyk sy optrede dus heel korrek.

Die werklikheid is egter minder mooi. Jóhanan het vas besluit om hierdie desperate groepie na Egipte, die “beloofde land”, te lei. Dáár is die vleispotte. Dáár is dit veilig. Hulle het nou genoeg van die toestand in Juda gehad. Jóhanan sal nie omdraai nie, ook al sou Jeremia sê dat hulle rustig in hulle land moet bly woon en dat hulle “op die Here moes vertrou ”. Jóhanan het die voorbidding alleen maar nodig gehad as ‘n goddelike goedkeuring van sy eie planne. Hy wou God vir sy planne probeer wen en die profeet Jeremia, “die man van God”, lyk vir hom as die geskikte “medium” om op ‘n geheimsinnige wyse die gewenste invloed op God te kon uitoefen.  Hy wil wel gehoorsaam wees, maar steeds vry wees om sy eie wil deur te voer.

In Jóhanan is daar niks van Christus te vinde nie, wat ons leer bid het: “laat U wil geskied”, dit is: “gee dat ons en alle mense ons eie wil sal versaak, en U wil, wat alleen goed is, sonder enige teëspraak sal gehoorsaam”. Dit sien ons uit die gevolg van hierdie verhaal. Die oproep van Jeremia: “bly!”,  stry teen Jóhanan se eie insigte.  Daarom trek hy die goddelike openbaring aan Jeremia in twyfel: “....... en aan Jeremia gesê: U spreek onwaarheid; die HERE onse God het u nie gestuur om te sê: Julle mag nie na Egipte trek om daar as vreemdelinge te vertoef nie” Jeremia 43:2. 

So gebeur dit maar telkens. Om sy eie wil te versaak was vir Jóhanan nie ‘n opsie nie. Hoeveel keer bid ons nie self nie: “wys U vir my die weg aan en laat ek U wil uitvoer”, maar as dit nie met my EIE WIL strook nie, dan gaan ek my eie gang.

Ds H Veldkamp (Ontmoetingen)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css