Die Weg

 

In die wêreld, maar nie van die wêreld nie

"Ek het hulle u woord gegee, en die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle nie van die wêreld is nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie". Joh 17:14

In die sogenaamde “hoëpriesterlike” gebed van Christus, wat ons gister gelees het, word baie dinge oor die wêreld gesê. Die dissipels moes wel in die wêreld, maar nie van die wêreld wees nie. Ja, ons kan met die kultuur op 'n heel wêreldse wyse besig wees. Ons kan die duiwel daarmee dien. Ons kan daarmee so besig wees dat ons heeltemal “van die wêreld”, d.i. gelykvormig aan die wêreld, word. Dit is die gevaar van alle kultuur.

Stel jou voor dat daar êrens in die Kalahari 'n afgesonderde dorpie lê en dat inwoners nog nooit buite die dorp was nie. Dan ken hulle hul dorpie, maar nie die res van die land nie. Gestel verder dat daar onder hulle één man is wat die land ken en dus weet dat hierdie dorp slegs 'n klein onderdeel is van ‘n groter staat. Hy weet dat daar op ander plekke 'n aanvraag is vir die produkte van die dorp en weet ook van ander ware wat die wêreld daarbuite goedkoop aan die dorp kan voorsien.

Wie beteken die meeste vir so 'n dorp? Die dorpeling wat miskien elke hoek en draai van die dorp ken, maar niks meer nie - of die man wat deur sy kennis van die land die dorp kan sien in verhouding tot die geheel? Natuurlik die man wat die groot geheel sien en dus ook die beste belange van die dorp kon dien.

Dieselfde geld vir die gelowige, ook as hy in die wêreld en met die kultuur besig is. Hy weet van 'n persoonlike God, van skepping en voleinding van tyd en ewigheid, van die wêreld, en van die Koninkryk. En juis as mense met God se perspektief op die lewe, is hulle ook vir die kultuur van groter betekenis.

Daarom moet ons leef in hierdie wêreld, soos Christus in hierdie wêreld geleef het: vol liefde, vreugde en verwagting - maar op iets meer omvangryk gerig as op die tydelike wêreld: op die Koninkryk van God en ons taak daarin.

Dr B Rietveld (Dagfinale)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css