Die Weg

 

Bly hoop op die heerlikheid wat wag

Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie”. Romeine 8:18 (NAV)

Lyding staan teenoor heerlikheid. Soms is die lyding so oorweldigend dat die heerlikheid totaal oorskadu word. Tog het gelowiges in Christus 'n alles oortreffende hoop op daardie heerlikheid, wat 'n afstraling van God se almag is. 'n Glans en skoonheid wat die uitstraling van sy innerlike suiwerheid is. Dit is 'n gawe wat die Christene eendag van God sal ontvang.

Die skepping bewys dat daar 'n verborge heerlikheid is. Die lyding van 'n veldbrand wat die aarde verskroei, is geweldig vir plante en diere. Dit is asof jy die skepping hoor sug. Maar reën bring weer die heerlike groen van nuwe lewe, sodat 'n mens die swart, verbrande aarde vergeet. Maar nog veldbrande kan kom. Daarom bly sug die skepping, terwyl dit saam met die gelowiges wag op die nuwe aarde.

Die Here seën ons reeds oorvloedig. Ons geloof gee sekerheid van ons verlossing. Die Gees laat groei 'n nuwe lewe in ons. Maar tog is daar nog soveel lyding! Ernstige siektes, armoede, liggaamlike en psigiese gebreke, vervolging - selfs die dood.

Telkens breek die reënbuie van God se troos deur. Innerlike vrede, liefde van medegelowiges, herstel van siektes, uitkoms vir vervolgdes. Die Gees dra ons woordlose gebede in volmaaktheid na die Vader oor.

Aan God die dank! In Hom is die sekerheid dat daar 'n heerlikheid wag wat alles verreweg oortref. Wat Hy begin het, voer Hy deur. Ons sal gelykvormig wees aan die Seun van God. Diegene wat daarvoor bestem is, word geroep, vrygespreek van sonde en kan seker wees van dié heerlikheid.

Dr Callie Opperman

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css