Die Weg

 

Nie van hierdie wêreld nie

Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie”.  Joh 17:16 (OAV)

Die Here Jesus het daardie laaste dae van sy lewe op aarde baie moeite gedoen om aan Sy dissipels te verduidelik hoe onoorbrugbaar die kloof tussen Hom en die wêreld, en ook tussen hulle en die wêreld was (Joh. 17 : 16-21). Van die Gees het Hy gesê dat “die wêreld (Hom) nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie” (Joh. 14 : 17). “Die wêreld het hulle gehaat omdat hulle nie van die wêreld is nie” (Joh. 17 : 14).

Een groot kenmerk van die dissipels was dus dat, net so min as Christus van die wêreld was, hulle van die wêreld sou wees. Deur die kruis en die opstanding het hulle één met Christus geword. Hulle het nou aan 'n ander wêreld behoort - die koninkryk van die hemel. Hierdie afskeiding van die wêreld behoort die kenmerk van alle dissipels te wees wat verlang om met die Gees vervul te word.

Hoe is dit dan dat geloof in die Heilige Gees so min verkondig en so min deur die Christendom beoefen word?

Die wêreld oorheers die lewe van Christene. Christene leef te min die hemelse lewe uit waartoe hulle in Christus Jesus geroep is. Die “liefde vir die wêreld” (1 Joh. 2 : 15, 16); “die begeerlikheid van die vlees”, die genietinge van eet en drink, van gemak en gerief; “die lus van die oë", genot in alles wat die wêreld aan skoonheid en besittings kan aanbied; die skynheerlikheid van die lewe, die selfverheffing in wat die wysheid en krag van die mens verrig het — dit alles beroof die hart van sy ontvanklikheid en begeerte vir daardie selfverloëning wat hom geskik maak om die Heilige Gees te ontvang.

Laat elkeen, wat die pinkstergebed wil bid om die krag van die Heilige Gees te verkry, homself ondersoek of die gees van die wêreld nie die geheim is waarom die liefde tot gebed ontbreek nie. Dít wat so absoluut noodsaaklik is vir almal wat aanspraak wil maak op die belofte van die Vader.

Mag die Here dit op elke hart graveer: Die wêreld kan die Heilige Gees nie ontvang nie! “(Julle) is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Joh. 17 : 14, 16).

Dr Andrew Murray (The secret of believing prayer)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css