Die Weg

 

Ons geloofshouding

Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus”. Filippense 3:13-14 (OAV)

Wat moet ons lewenshouding wees? Ons mag nie geestelike leeglêers wees, wat hand in die broeksak rondslenter en so ons kosbare lewenstyd verkwis nie. Ook nie dromers van luilekkerland waar die lewe een roes van genieting sal wees nie.

Toe Paulus die lewenshouding van God se kinders wou skilder, het hy 'n glad ander beeld gebruik. Hy het gedink aan die deelnemers in 'n Griekse wedloop! Jy moet die teks hierbo nie net lees nie, maar sien! Sien deur die oë van Paulus.

Daar spring die hardlopers nou weg. Elke spier is ingespan, elke vesel gee sy volle krag.

Hul gee hulself tot die uiterste toe! Hulle wil wen. Hulle wil die prys verower, die kroon wat wag aan die einde van die baan! Dit was maar 'n kroon van blare - 'n lourier-krans. Tog het hulle hul ingespan en met alle mag deelgeneem.

Moet jy as Christen jou dan nie nog baie meer inspan nie? Jy wat ook deelnemer aan 'n wedloop is, en vir wie God 'n onverganklike, ewige kroon in die vooruitsig stel!

'n Hardloper gaan nie op die baan stilstaan om te kyk oor hoeveel hindernisse hy al gekom het nie. Hy het ook nie tyd om die ander deelnemers te kritiseer nie. Hy hardloop in een vaart deur . . . Met die liggaam vooroorgebuig, snel hy voort op die wenpaal af - die ene hunkering en verlange na die kroon van oorwinning.

So moet 'n Christen se lewe wees. Daar moet vaart in wees. Dit moet 'n doel najaag, die groot einddoel van God. Dit is iets anders as die lewensbelustheid van 'n vrolike kêrel of die sorgeloosheid van 'n pierewaaier. Eers dan word dit 'n vreugde om te lewe. Dan is ons mos lus vir die lewe. En tog onbesorg - maar op 'n glad ander manier. Ons jaag die einddoel na.

Volhard dus. Moenie verslap nie; moenie die stryd laat vaar nie. Hou aan met hardloop na die einddoel wat God vir jou stel!

Dr FE Hoekstra (Dagfinale)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css