Die Weg

 

Ondervinding is die beste leermeester

"Dit was oos van die Jordaan, in Moab, dat Moses die wet begin verduidelik het". Deut 1:5.

Op 'n maand na was die volk veertig jaar lank weg uit Egipte (v 3). Moses was in dié tyd ononderbroke hulle leier, hulle tussenganger by God. In dié tyd het hy baie geleer, van die Here maar ook uit ondervinding. Wat hy daar aan die Jordaanoewer vir sy volk gesê het (v 1), is die samevatting van wat die lewe hom gedurende die veertig jaar geleer het. Dit was 'n lewe saam met 'n koppige volk wat ook sy tol van Moses geëis het (v 37; Deut 3:26; 4:21), maar dit was terselfdertyd 'n lewe by God en saam met God (Num 12:8). Dis juis uit Moses se ondervinding van saam met God te lewe dat hy nou 'n uitleg vir sy volk gee van wat die Here in dié tyd vir hom gesê het.

Die Hebreeuse woord wat hier met "die wet" vertaal is, wil eintlik sê dat Moses vir die volk alles verduidelik het wat die Here hom in die veertig jaar geleer het. En dis waar. Hy kon dit doen.

Juis uit 'n mens se ondervinding saam met God leer 'n mens en kan jy iets vir ander meedeel. Nêrens anders as juis in ons godsdiens is die spreekwoord waar nie: Ondervinding is die beste leermeester.

Het jy al iets van Hom geleer?

Gebed: Leer my, Here, uit my lewe by U en saam met U.

*******************

Prof AH van Zyl (Uit die Beek)*
*Met vriendelike samewerking van Lux Verbi. Lux Verbi se boeke is by alle goeie boekhandelaars, landwyd beskikbaar . Kan ook bestel word by www.luxverbi.co.za of deur 0861 668 368 te skakel.

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css