Die Weg

 

Vertroue en ondervinding

"Die Here gee die hele land oor in ons mag. Al die inwoners van die land bewe van vrees vir ons.".Josua 2:24

Die twee verkenners het 'n paar baie noue ontkomings gehad (vers 6), veral terwyl daar drie dae lank na hulle gesoek is (vers 22). Met dié het hulle egter 'n belangrike waarheid geleer: die Here het gesorg dat hulle nie in die vyand se hande val nie. Daarby het die getuienis van Ragab gekom: almal is bang vir die Israeliete, want die Here, hulle God, is God in die hemel en op die aarde (vers 11). Hy regeer oral, en dus kan Hy die land vir hulle gee (verse 9-10). Met hierdie getuienis en hulle eie ondervinding dat God vir hulle sorg, is die twee verkenners na Josua toe. Wat hulle gehoor en beleef het, het hulle vertroue in die Here versterk. So het hulle geloof in Hom gegroei. Daarom is hulle so positief.

Koppel altyd jou vertroue in die Here aan jou eie ondervinding van wat Hy al vir jou gedoen het. En hou hieraan vas wanneer jy die onbekende moet tegemoet gaan. Dan sal jy nie wanhoop of sommer net tou opgooi nie.

Wie reeds ondervind het wat die Here vir sy kinders doen, staan vas, en leef in sekerheid.

Gebed: Dankie, Here, vir alles wat U al vir my gedoen het en vir wat dit in my lewe beteken.

************************

Prof AH van Zyl (Uit die Beek)*
*Met vriendelike samewerking van Lux Verbi. Lux Verbi se boeke is by alle goeie boekhandelaars, landwyd beskikbaar . Kan ook bestel word by www.luxverbi.co.za of deur 0861 668 368 te skakel.

 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css