Die Weg

 

Een mislukking is nie die einde van die lewe nie

"Die Here het vir Josua gesê: "Moenie bang wees nie, moenie bekommerd wees nie. Neem al die manskappe met jou saam en trek op teen Ai. Ek gee die koning van Ai, sy volk, sy stad, sy land nou aan jou oor. .. Josua en al die manskappe het toe klaargemaak om teen Ai op te trek". Josua 8:1-3

By hulle eerste aanslag op Ai moes hulle vlug. Daar is die moed van die Israelitiese manskappe gebreek (Jos 7:5). Daarom het die leiers hulle klere geskeur en op die grond gaan lê. Hulle het misluk in die opdrag om die land in besit te neem.

Om te misluk, is 'n geweldig teleurstellende ondervinding, veral as 'n mens jou hart op die saak gesit het. Dit maak enige mens lam en mismoedig. Elkeen van ons weet dit uit eie ondervinding, want wie is daar wat nog nooit mislukking se wrang smaak geproe het nie? Nee, dis binne die moontlikheid van elke mens om te misluk.

Die vraag is egter nie of 'n mens misluk nie. Die vraag is: Wat maak ek met my mislukking? Jy kan jou mislukking vertroetel tot dit 'n grief word teen jouself, jou medemens, jou God. Of jy kan jou mislukking aanvaar, daaruit leer, en dit dan met 'n nuwe begin en 'n nuwe probeerslag te bowe kom.

Wie dit doen op die manier waarop Josua-hulle dit doen, het alreeds die nuwe toekoms saam met God ingegaan.

Gebed: Help my, Here, om op te staan en saam met U vorentoe te gaan.

************************

Prof AH van Zyl (Uit die Beek)*
*Met vriendelike samewerking van Lux Verbi. Lux Verbi se boeke is by alle goeie boekhandelaars, landwyd beskikbaar . Kan ook bestel word by www.luxverbi.co.za of deur 0861 668 368 te skakel.

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css