Die Weg

 

Rampe en ontwrigting is geboortepyne, verwag die nuwe tyd!

"Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd". Matteus 24:8

Oorloë, valse “profete” oor die oordeelsdag, predikers wat in die Naam van Christus ‘n vals boodskap verkondig, natuurrampe – waar gaan alles eindig?

Wat bedoel Jesus met “al hierdie dinge is geboortepyne”? Jesus beantwoord sy dissipels se vraag: “Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge gebeur en wat sal die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld wees?” (Mat 24:3). Twee vrae in een: (1) Wanneer sal die tempel verwoes word?  (2) Watter tekens sal daar wees van Jesus se wederkoms en die einde van hierdie wêreld? Jesus waarsku teen misleiding. Ja, reeds van die ou profete af (Jesaja, Jeremia, Miga) word rampe en lyding aangekondig, wat die finale oordeelsdag sal voorafgaan. “Maar pasop!” sê Jesus “dit is nog nie die einde nie.”

As valse profete, aardbewings, oorloë oor die hele wêreld en hongersnood dan nie die eindtyd aankondig nie, waarheen lei alles dan? Ook vir vandag is dit ‘n belangrike antwoord van Jesus!

Jesus gee vir vandag troos.

Jesus kom beslis weer! Ja, daar is swaar tye en dit sal nog erger word. Dis geboortepyne! Ons moet en kan dit met geduld en volharding verdra. Wees seker dat God sy kinders deur alles heen sal bewaar.

Leef só, dat jy elke dag gereed is om jou Here te ontmoet.

Bemoedig mekaar! Leen jou ore nie uit aan elke sensasionele prediker nie. Versterk jou geloof deur kennis van God se Woord, gebedsvolharding om die leiding deur die Gees. En verder: doen goed aan mekaar in gehoorsaamheid aan jou Here.
 

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css