Die Weg

 

Nuwe lewe as kinders van God soos nuwe lenteblomme

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”. (Efesiërs 4:23-24)

Een van die wonders van God se skepping, wat my elke jaar aangryp, is dat daar nuwe blomme uit winterbolle groei. Die pragtigste lelies en ander bolplante verras jou telkens met hulle vorm en kleur. Waar kom die nuwe blomme vandaan? God het die lewe in die blombol geskep. Maar dit bly nie daar weggesteek nie. Dit bars bo die grond uit en vertoon die nuwe lewe wat daar onder die grond in die bol gevorm is.

So moet ons nuwe lewe as kinders van God ook soos met ‘n blomprag aan die wêreld vertoon word. Dit kan nie aangeplak wees soos ‘n stuk nuwe lap op ou klere nie. Jy kan nie maar net ‘n skoon broek en hemp aantrek sonder om eers te bad nie. Jy vertoon steeds die vuilheid. Net so kan jou woorde en dade nie werklik Christelik wees as dit nie van binne nuut gemaak is nie.

Dit is die sigbaar word van God se genade in Christus en die werking van die Gees. Hy skenk nie alleen vergifnis van sonde nie, maar skep ‘n nuwe mens wat na die beeld van God is. Die verwronge beeld van God, geneig tot sonde, is sedert die ongehoorsaamheid van Adam ons las. Ons word so gebore. Maar God laat dit nie daar nie. Die mens word nuut herskep, na die beeld van God, soos sy oorspronklike bedoeling was.

Maar hierdie nuwe mens kan nie weggesteek bly nie. Dan sou dit wees soos ‘n nuwe blom uit die bolplant, wat nooit bo die grond verskyn nie.

Kinders van God kry die opdrag: Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. Die een volg op die ander, maar nie sonder die mens se eie doelgerigte strewe na die nuwe nie. ‘n Bol kan nie ‘n nuwe blom produseer sonder sy Skepper nie.

Die nuwe lenteblom van ons Christelike lewe vertoon eers duidelik in ons lewens wanneer ons volgens die wil van God heilig lewe.

Leef dan hierdie week – en elke week – met God se lentekrag in jou. Dink nuut, doen nuut, toets jou voortdurend aan die wil van God en sy heiligheid. Wat ‘n vreugde vir jouself, maar wat ‘n wonderlike manier om saam met nuwe lenteblomme jou Skepper en her-Skepper te vereer.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)
 

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css