Die Weg

 

Oorvloedige blydskap gewaarborg

"U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit U hand kom net wat mooi is". (Psalm 16:11)

Sommige noem dit “Oktoberitis”, andere praat van die tydperk van kwaai depressie. Op een of ander manier beleef ons gemeenskap ‘n diep kontras van “Oktober die mooiste mooiste maand” teenoor “Oktober die neerdrukkendste maand”. Die hartseer is dat daardie mense wat neerslagtig of depressief is, juis nou soms alle moed verloor. Selfs die hand aan hulle eie lewe slaan.

Ons beleef ‘n stryd in ons binneste. Dit is asof ons al die veiligheidsmaatreëls toepas, maar dat ons blydskap tog gesteel word. Voor ons besef, sit ons net met die stukkende voordeur of venster. Ons innerlike deurmekaar gekrap deur die gevoellose Bose, wat ons van ons ankers wil losruk.

Is daar iets waarmee ons mekaar kan bemoedig?

Is daar enige vreugde wat ons met mekaar kan deel?

Of is die besef dat die jaar ten einde spoed té neerdrukkend? Of die ervaring van uitputting te erg, wanneer die somerweer skielik toeslaan, of die skok oor dit waarby ons nie kon uitkom nie? Die spreekwoord sê: "Die gees is gewillig, maar die vlees is swak". Nou voel dit dat selfs die gees ook kragteloos is!

In sulke tye moet ons doelbewus op die waarheid fokus. Die waarheid staan sterker as ons eie persepsies, dit troon uit bo die skynbaar onoorkombare struikelblokke. Watter koers moet ons kies om uit die doolhof van neerslagtigheid te ontsnap?

Die waarheid is: “By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is”. In God self, die sekerheid wat Hy gee, die vaste skuiling wat Hy verskaf, die band wat Hy met ons gebind het in Christus, is oorvloedige blydskap. Daarmee stuur die Here jou hierdie maand in.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css