Die Weg

 

Blydskap! omdat jy met die Here op koers is

"Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap. Die gebod van die Here is helder: dit gee insig". (Psalm 19:9)

Is dit die regte pad Etosha toe?” vra die toeris. Die eerste maal dat hy noord van Windhoek moes reis. Ons haal die kaart uit en ek bevestig hoe hy moet ry. Met blydskap, dankbaarheid en hande wat wuif, vertrek hulle gesin op die regte koers.

Om op die regte koers in die lewe te wees, is nie so eenvoudig nie. Die omstandighede waarin ons leef, is so valerig - nie wit nie, ook nie swart nie. Nie reg nie, ook nie verkeerd nie, sê “hulle”. Daardie "hulle" agter wie kinders skuil om iets by ouers af te smeek. “Hulle doen dit!” hoor jy. “Daarom mag ek ook.” Maar ook ons volwassenes doen graag soos “hulle” die koers aandui. En die meerderheid is soms ook maar koersloos. So verdwaal ons saam.

Soms is dit in sake van minder belang, iets wat ek moet koop, die kleur wat ek kies, die TV program wat ek kyk. Maar daar is sake wat lewensbelangrik is, vir nou en altyd. Dan mag die koers nie so valerig dof wees nie. Daar moet ‘n duidelike roete wees, ‘n padkaart wat jou by die regte bestemming sal bring.

Die vaste roete, die regte koers, vind ons by die Here alleen. Hy wat bo alle verdwaalpaaie verhef is, wat jou ken van voor jou geboorte af, wat jou tye bepaal, wat vir jou wil koers aandui. Psalm 19 vertel in digterlike woordrykheid hoe God Hom aan ons mense bekend maak. In die eerste verse hoor ons hoe Hy woordloos deur sy skepping met ons “praat”. Ons sien elke dag die vaste koers van die son: “Aan die een kant van die hemel kom hy op en aan die ander kant gaan hy onder.” (vers7). Net so wil die Here aan ons die regte koers aandui. Daardie koers waarop Hy ons nie inperk nie, nie wil seermaak nie, nie in twyfel wil laat rondsoek nie. Nee! “Die bevele van die Here dui die regte koers aan: dit bring blydskap.” (Ps 19:9). Blydskap! Hoe smag ons nie daarna nie! God skenk dit aan ons.

Soek jy vir vandag en die toekoms ware blydskap? Blywende diep geankerde blydskap? Moenie dat die bevele van Here by jou verbygaan nie! Moenie dat mense rondom jou dit bevraagteken nie. Moenie jou ore daarvoor sluit nie. Daar is blydskap wanneer ons weet dat ons op Sy koers is. Sy bevele is nie koue wette nie, maar gee die lewe. Dit is in sy Woord opgeteken. Hierdie Woord het mens geword toe Jesus uit liefde vir ons die mens se natuur aangeneem het. Ons Verlosser, deur wie ons kinders van die Vader word, het die regte pad kom aandui. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” sê Hy, Jesus, van Homself. Wanneer ons sy woorde in ons bewaar, bring dit vrug voort wat die Vader verheerlik. Watter groter blydskap kan ons hê? 

‘n Vaste koers, volgens God se Woord, word jou toegebid! En blydskap in oorvloed!

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css