Die Weg

 

Blydskap, omdat jy van sondeskuld verlos is

"Laat my weer die blydskap ervaar van iemand wat deur U verlos is, laat my U weer met toewyding dien". Psalm 51:14

Die seuntjie, wat te naby aan die hitte van die braaivleisvuur gestaan het, het geroep: “Nou vloek ek nooit weer nie! Voel net hoe warm is die vuur! Hoe warm is die hel dan nie!

Is die ellende, wat jy op jou haal deur aan te hou sondig, net so ‘n werklikheid as die vuur vir daardie seuntjie? As ons sou vra: “Wat is jou grootste nood vandag?” sal minder as 50% seker sê: “My sondeskuld!” Siekte of geldskuld laat ons eerder wakker lê as sondeskuld.

Sonde stroop ons van blydskap. Sonde bring hartseer. Dit is soos ‘n verterende siekte, wat klein begin, maar later die hele liggaam vernietig. In die tronk was iemand wie se diefstaloortredings begin het met lekkertjies vat in die laerskool. ‘n Stukkende huwelik is soms die gevolge van ‘n flirtasie met meisies by die werk. Verslawing aan pornografie begin met die nuuskierige soek na gewaagde foto’s.

Ons fokusvers kom uit Psalm 51, wat koning Dawid gedig het nadat hy die hartseer gevolge van seksuele sonde ervaar het. Hy het saam met Batseba, die vrou van ‘n ander man, geslaap. Hy smeek God: “Laat my weer blydskap ervaar.” Die sonde het hom soos kettings gebind. Hy het dit eers probeer wegsteek, maar dit het geen vreugde gebring nie.

Watter sonde probeer jy vandag wegsteek? Iets waarvan jy in jou slimmigheid dink niemand anders weet daarvan nie? Ongehoorsaamheid aan die Here lei tot skuldbesef, vrees vir straf, gebroke menseverhoudings, selfs liggaamlike siekte en sielkundige probleme.

Die psalmdigter vra verlossing, nadat hy eerlik sy sondeskuld bely en hom daarvan bekeer het. Verlossing is slegs moontlik deur Hom wat skuld kan vergewe. Vergifnis het die duur prys van Jesus Christus se kruisdood gekos. God wat sonde haat en sonde mag straf, is ook die genadige Here, wat uit liefde vir verlore sondaars die ware Jesus, Verlosser van sondes, gestuur het.

Ook jy kan vandag ware BLYDSKAP ervaar. Daardie blydskap wat beleef word, wanneer jy jou sonde bely het en vergifnis ontvang het. Diep gewortelde blydskap wat die wonderlike vrug dra van verlossing, van oorwinning oor sondes, wat soos ‘n muur tussen ons en God gestaan het.

Dr Callie Opperman (Deo Gloria Kuberbrief)

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css