Die Weg

 

Beoefen die teenwoordigheid van God

Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”. Fil 4:5-7

Dit klink soos ‘n teëstelling, maar ons besorgdheid oor die lewe laat soms ons geloof kwyn. En ons kwynende geloof maak dit vir ons moeilik om ons probleme die hoof te bied.

Wanneer ons uit die geloof lewe dan kán ons teen die wêreld opstaan. Dan sál die wapens wat teen ons gerig word niks uitrig nie. Dan sál ons elke tong wat ons belaster, kan weerlê. Dan sál ons ons daaglikse brood ontvang. Meer nog, God sal ons toerus met alles wat goed is, sodat ons Sy wil kan doen (Heb 13:21 NAV). Laat jouself en jou las aan die Here oor, werp al jou bekommernis op Hom en laat dit daar. Te veel mense neem dit weer terug!

Die Here is naby! Ons moet dit vir onsself sê, elke dag en in alle omstandighede. Ons moet dit sê wanneer ons voel ons word te na gekom, wanneer ons geïrriteerd voel en ander se afjakke moet verdra. Ons moet dit sê wanneer ons bekommerd en beangs voel! Ons moet dit aanhou sê totdat ons Sy teenwoordigheid ervaar. Dan sal dit wees soos die oggendlig wanneer die son oor die horison verskyn.

Beoefen die teenwoordigheid van God! Hou gemeenskap met Hom! (1 Joh 1:3). Selfs in jou daaglikse arbeid, wanneer jy met ander mense onderhandel, of jou inkopies doen.

Daar is 'n groot verskil tussen geloof en kortstondige emosionele opwellings. Ons moet bokant die emosionele uitstyg tot 'n geestelike gemeenskap met God en in volle kennis van God (Kol 3:10). Emosies kan gou weer verdwyn. Wat vir ons tel, is die volkome oorgawe van die hart aan Hom. Dit is om altyd kalm, bly en kragtig te leef volgens die wil van God. Om soos ‘n Henog of ‘n Dawid in gemeenskap met Hom te wandel. Dan kan ons al ons begeertes aan Hom bekendmaak. Dan sal ons ook die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan ervaar (Fil 4:3), selfs in moeilike omstandighede.

FB Meyer

Kopiereg: Lukas du Preez (dieweg.co.za). Ontwikkel op w3.css